Eeue lank het beskawings geglo edelgesteentes het tower-eienskappe. Skoonheidshuise soos La Mer sien nou dié energiegewende aard van skaars stene raak: “Edelgesteentes is ryk aan minerale en energie en help jou vel om voedende bestanddele in skoonheidsprodukte te absorbeer,” sê Kerry Evans, handelsmerkbestuurder van La Mer in SA.

Ferm met hematiet

Die vel om jou oë is drie keer dunner as enige ander deel van jou vel en is daarom meer vatbaar vir die gevolge van stres en omgewingsfaktore. Hematiet (’n blink mineraal) is bekend vir sy magnetiese energie en kan die sigbare verlies van fermheid teenwerk. Dit help ook teen donker kringe en pofferigheid.

* Hematiet in La Mer The Eye Concentrate (R1 650) dreineer vog wat onder jou oë opbou met behulp van ’n silwer aanwendingstokkie.

Malagiet vir lewenskrag

Hierdie verhelderende mineraal het die vermoë om natuurlike wit lig te absorbeer en gee dus energie aan ’n moeë vel.“Wit lig word deur malagiet geabsorbeer en verander in weerkaatsende groen lig. Dié groen lig is bekend vir sy suiwerende effek en word aan jou vel oorgedra wanneer die room aangewend word,” verduidelik Andy Bevacqua, vise-president van korporatiewe produkontwikkeling by Max Huber-laboratoriums.

* La Mer The Eye Balm (R1 650) is groen soos die Brasiliaanse malagiet waarmee dit verryk is. Die kleur help om velrooiheid te verminder, terwyl see-ekstrakte donker kringe beveg.

Diamantglad

Fyn diamantstukkies in skoonheidsprodukte sorg vir ’n luukse-gesig-behandeling wat jou vel gladder en helderder laat lyk. Diamantpoeier is ook ’n skropmiddel wat bloedsirkulasie verbeter en jou vel laat herontwaak.

* Daar is byna 2 karaat-diamant-stukkies in La Mer The Refining Facial (R975).

Pêrelkrag

Pêrelpoeier se helende eienskappe word ingespan om jou vel te voed en op te knap. In reinigers help mineraalryke olies om onsuiwerhede en grimering sagkens van jou vel te verwyder.

* Toermalyn en pêrelpoeier vorm ’n kragtige kombinasie in La Mer The Cleansing Fluid (R795), maar stroop nie die vel van natuurlike olies nie.

Energieke toermalyn

Dié mineraal bring energie vir ’n moeë vel. “Toermalyn in ’n room stel energie vry wanneer jy dit aansmeer. Dit vernuwe jou vel. Toermalyn maak ook die ander bestanddele in die room doeltreffender,” verduidelik Andy Bevacqua.

* Gee jou hande nuwe lewe met La Mer The Hand Treatment (R850) – dis verryk met toermalyn.