Op 30 is die TV-aanbieder Elma Smit gereed om die plooie op haar voorkop te takel. Is die oplossing so eenvoudig soos ’n paar fyn naalde in die gesig?

Moenie so frons nie. As die klok nou slaan, bly jou gesig net so staan. Ons vroue word mos aanhoudend teen plooie gewaarsku. Een oggend, net minder as ’n jaar gelede, onder die hotelkamerspieël se ongenaakbare fluorescent-lig, sien ek skielik baie meer plooie in my gesig.

Duh,” dink ek, "jy's 30, wat het jy verwag,” en frons voordat ek my kan keer, skaam oor dít wat op my voorkop pryk.

Vir ’n ruk daarna het ek grimeerkunstenaars, vriendinne en vreemdelinge – almal vroue – dopgehou. Ek't die "skade" aan my gesig vergelyk met ander s’n en besef dat ek darem nie die enigste slagoffer is nie. Verligting. “Maar jy’s op TV en dáár is die standaarde hoër,” het die stem in my kop bly sê.

Soos dokters vaktydskrifte moet lees en fotograwe in nuwe toerusting belê, só is dit my werk as TV-aanbieder om op die hoogte te bly van byvoorbeeld rugbynuus. Dít is egter net die helfte van my prestasiebeoordeling. My gesig vorm óók deel van my loopbaan-arsenaal. TV is mos nie radio nie.

Foto: Kevin Mark Pass FOTO Kevin Mark Pass

’n Oomblik van nugterheid het in die grimeerstoel by die SuperSport-ateljee ingeskop: Van my manlike kollegas het in die ry gestaan vir hul poeiersessie. Ek’t besef my eie "skade" is maar yl in vergelyking met die spore wat die jare al op húl gesig gelaat het. Tog is ek oortuig daarvan nie een van hulle het al ooit gewonder of te veel plooie hul TV-loopbaan in die wiele sal ry nie. So hoekom sal ek nou tob oor my voorkop? Of die lagplooie om my mond?

Sowat ’n maand later het ek weens ’n onverklaarbare voetuitslag by ’n dermatoloog geëindig en kry toe ’n bietjie meer professionele advies as waarvoor ek sielkundig voorberei was.

“Jy’s 30 en jy werk in die TV-bedryf. Hoe lank dink jy kan jy só aangaan, sonder Botox,” het die dermatoloog gevra. Dit was dalk nie sy presiese woorde nie, maar dis wat ek gehoor het. Hy’t ook iets gesê van “’n ekspressiewe voorkop” en dat “Botox op 35 te laat sal wees”. Blykbaar sal die vel van my #ekspressiewevoorkop oor vyf jaar só gerek wees dat Botox die los vel en daarmee saam my wenkbroue oor my oë sal laat sak. Ek oordramatiseer dalk nou, maar vir dié stukkie advies was ek nie op ’n leë maag gereed nie.

'n Selfie saam met Erin Ferreira, Breyton Paulse en Warren Brosnihan. My ekspressiewe voorkom in aksie!  Selfie saam met Erin Ferreira, Breyton Paulse en Warren Brosnihan. My ekspressiewe voorkop in aksie!

Oor die Kerstyd was my voorkop-vrese vir eers vergete. Tot ek by my skoonsuster se Amerikaanse vriendin Anna gehoor het van ’n holistiese behandeling teen die tekens van ouderdom. Op 45 lyk sy 35 en dít glo danksy ’n behandeling wat nie behels dat ’n vreemde stof in jou gesig gespuit word nie. Akupunktuur is nie net ’n oplossing vir rugpyn, hoë bloeddruk en ander chroniese pyne nie, sê Anna toe. Dit kan blykbaar ook plooie takel én nuwes help voorkom. Kyk, ek is nie verhewe bo Botox nie, maar vir my maak dit nie sin om op 30 met ’n eentonhamer teen plooie in te lê as daar dalk ’n ander oplossing is nie. My persoonlike projek vir Januarie was toe ’n soektog na iemand in Johannesburg wat kosmetiese akupunktuur doen.

Kyk, ek is nie verhewe bo Botox nie, maar vir my maak dit nie sin om op 30 met ’n eentonhamer teen plooie in te lê as daar dalk ’n ander oplossing is nie.

Die homeopaat by wie ek uiteindelik aangeklop het, Debbie Smith, het vertel akupunktuur verbeter jou vel se bloedsirkulasie en die res val soos dominoes in plek. Benewens verbeterde bloedvloei word kollageenvervaardiging aangewakker as die akupunktuurnaald ’n spier op presies die regte plek en diepte prik. Die eindresultaat is blykbaar ’n gesonder, meer elastiese en dus fermer vel.

So werk dit? Ek weet nog nie, maar ek reken dit kan nie skade doen om dit te probeer nie. Teen R540 per behandeling, vir ’n aanbevole reeks van vyf behandelings ’n week uitmekaar, is dit ’n belegging wat ek graag in my "arsenaal" maak. * Lees volgende week hoe dit met Elma se eerste akupunktuurbehandeling gegaan het. SARIE bied ’n platform vir mense om hul skoonheidservarings te deel, maar ons onderskryf nie enige van die behandelings of produkte wat genoem word nie. Lees Nou

Lesersvraag: Alles wat jy moet weet oor basislae

Paartjie skud saam 100 kg af