Ons het jou Maandag gewys dat Jennifer Aniston haar brunet kapsel weer blond gekleur het. Nou het twee ander Hollywood-aktrises haar voorbeeld gevolg en hul haarkleur terugverander na hul oorspronklike kleur.

Die aktrise Kristen Stewart van Twilight-faam het ons onlangs aan die raai gehad met haar oranje kapsel. Sy het later gesê sy moes dit kleur vir haar rol in die film American Ultra. Gelukkig kon sy nou weer terugkeer na haar oorspronklike donkerbruin haarkleur.

Die American Horror Story-aktrise en broerskind van Julia Roberts, Emma Roberts, sê op Twitter sy voel weer soos haarself nadat sy haar hare weer blond gekleur het en vir haar verlengings laat insit het. Emma het sedert Januarie haar hare in ’n lang bob gedra, en was ook vir ’n tydjie ’n brunet.

Kies ’n haarkleur wat by jóú pas

Hare wat onnatuurlik lyk, is uit. ’n Haarkleur wat by jou vel pas, is in. As die kleur te donker of lig is, kan jou gelaat vaal lyk en jy kan selfs ouer voorkom, sê Natalie van Heerden, bemarkingsbestuurder van Schwarzkopf.

Natalie se wenke

  • Moenie jou hare meer as twee skakerings ligter of donkerder as jou eie hare kleur nie.

  • Jy kan steeds met kleur eksperimenteer. Probeer ligstrepies – dit is meer subtiel as om jou hele kop te kleur.

  • Kies die regte skakering vir jou velkleur só

  1. Donker kleure pas by ’n olyfkleurige vel. Moenie jou hare ligter as jou velkleur kleur nie, want dit gaan onnatuurlik lyk.
  2. As jy ’n pienk ondertoon het, vermy warm rooi of goudblonde skakerings.
  3. As jou velkleur baie lig is, vermy swart of donker skakerings. Dit kan jou baie bleek en ouer laat lyk.
  4. Wees versigtig vir skakerings met geel, goue of oranje ondertone as jou vel ’n geel  ondertoon het. Dieprooi en donkerbruin skakerings is ’n veiliger keuse.

Nóg haarstyle op SARIE.com