UNIEKE ERFSTUKKE met ’n storie te vertel word ál meer gesog in ons massaproduksie-wêreld. Juis daarom dat skoonheidshuise - veral dié met ’n ryk erfenis - deesdae in hul argiewe inspirasie gaan haal wanneer ’n nuwe geur beplan word.

Vir hul 50ste verjaarsdag in 2007 stuur Givenchy byvoorbeeld hul gewildste parfuums van die afgelope vyf dekades terug winkelrakke toe.

Dit sluit in L’Interdit, hul heel eerste fyngeur wat spesiaal vir Audrey Hepburn geskep is, asook Eau de Givenchy en Givenchy III (slegs in die buiteland beskikbaar).

Yves Saint Laurent stel weer in 2007 ’n modereeks bekend met hul beste ontwerpe van die laaste 45 jaar. Dié klassieke reeks word afgerond deur ‘n nuwe baadjie vir hul ikoniese Opium-parfuum: Opium Orient Extreme (beperkte hoeveelheid plaaslik uitgereik).

Estée Lauder se eerste parfuum, Youth Dew.

Estée Lauder Youth Dew

 

Estée Lauder se eerste parfuum, Youth Dew, is reeds in 1953 bekend gestel, maar blý in die mode. Estée Lauder het al in 1984 gesê: “Youth Dew is sexy. Dit was sexy toe dit bekend gestel is en dit is vandag sexy. ’n Hele nuwe generasie is besig om dit te ontdek.” Die verkoopsyfers bewys dit.

Alison McKee, nasionale bemarkingsbestuurder van Aramis and Designer Fragrances, glo dié neiging is hier om te bly: “Daar is altyd ruimte vir ’n klassieke parfuum, want dit is propvol mooi herinneringe van ons kleintyd.” Een van haar eie jare lange gunstelinge is Tuscany per Donna. “Hierdie parfuum het ‘n sagte geur wat by my persoonlike styl pas. Dit lig altyd my gemoed en skep ’n elegante gevoel.”

Daar is heelparty nuwe fyngeure wat nou wel nie spog met ’n ellelange erfenis nie, maar steeds ouwêreldse elegansie vasvang. Só ‘n parfuum op Alison se spieëltafel is Michael Kors Eau de Parfum (hooffoto bo). Dit bevat een van die wêreld se oudste parfuumbestanddele: soetemaling, ’n blom wat ruik soos ’n mengsel van jasmyn en ilang-ilang. “Dié parfuum skep ’n gerusstellende gevoel wat my terselfdertyd sexy en sjiek laat voel.”

Alison beskryf parfuum as “vloeibare emosie” en glo dit is noodsaaklik vir elke vrou om ’n geur vir haarself te vind: “Deesdae is dit ‘n groot neiging om ‘n hele paar parfuums in jou kas te hê om van te kus en te keur vir elke bui. Die geur wat jy egter instinktief kies wanneer jy haastig is, is gewoonlik jou kenmerkgeur.”

Hoewel die skep van ‘n splinternuwe parfuum die meeste kreatiwiteit en werk vereis, word ’n parfuum wat jare lank verkoop word, ook dikwels herformuleer wanneer sommige bestanddele onbeskikbaar is of te duur geword het. Dít is die verantwoordelikheid van ’n geurmaatskappy se “neus”, ’n parfuumkenner wat gewoonlik ook die skepper is van die parfuum, om te verseker dat ’n fyngeur oor die jare sy unieke karaktereienskappe behou.

Die inspirasie vir hierdie eienskappe is soms baie ongewoon, soos toe ’n eksentrieke Amerikaanse miljoenêr ’n parfuummaker gevra het om ’n geur te te skep wat “jou laat voel asof jy in sjampanje bad”.

Dié geur was vinnig ‘n wegholsukses en vandag - 68 jaar later - is Royal Bain de Champagne van Caron steeds te koop onder die handelsnaam Royal Bain de Caron (nie in SA beskikbaar nie).

Parfuummaker Jacques Cavallier het weer eenkeer opdrag gekry om ‘n geur te bedink wat na vars water ruik. Só is die ontwerper Issey Miyake se eerste trefparfuum, L’Eau d’Issey, gebore.

Wanneer ’n parfuum vir markgereedheid getoets word, moet ure en selfs dae tussen toetse toegelaat word, aangesien ’n mens se neus ná slegs ’n paar snuiwe “moeg” raak. Die proses om ‘n parfuum te skep is dus ‘n tydsame een. Kenners beveel aan dat jy ook sorgvuldig en tydsaam te werk gaan met die kies van jou parfuum. Volgens Alison is dit egter ‘n mite dat ’n teugie koffieboonaroma tussen snuiwe jou reuksintuig verskerp: “Die beste manier om weer jou lugweë skoon te maak is om deur watte asem te haal - dit sal jou neus weer ontvanklik maak vir geur.” Sy glo dit is nietemin wys om nie meer as drie parfuums op ’n slag te toets nie.

“Gebruik ook die agterkant van jou hand, dan kan jy die parfuum maklik afwas maar steeds ’n idee kry van hoe dit ruik wanneer dit met jou unieke velolies meng.”

En wanneer jy jóú parfuum gevind het, sal jy ook voel soos Audrey Hepburn toe sy gehoor het haar kenmerkgeur, L’Interdit (wat “verbode” beteken), gaan bemark word: “Dis verbode!” het sy speels gesê.