Is jy gaande oor helder lipskakerings, maar dikwels gefrustreerd omdat die kleur te maklik van jou lippe verdwyn?

Die oplossing is ’n nuwe produk wat die skoonheidswêreld op hol het: dit lyk soos ’n lipglans, word droog soos ’n mat-lipstiffie en hou boonop vir ure lank op jou lippe.

Al hoe meer skoonheidshuise skep nou hul eie weergawe van die sogenaamde vloeibare liptint. Jy kan maar sê dit is ’n super-lipproduk wat die voordele van onderskeidelik ’n lipglans, ’n mat- én ’n roomlipstiffie in een bied, sê Meagan Africa, nasionale opleidingsbestuurder van die grimeerhuis Smashbox.

Verskaf deur Smashbox Verskaf deur Smashbox

Meagan verduidelik die verskil tussen …

...’n vloeibare liptint en lipglans:

Albei formules is vloeibaar en gly dus maklik aan, maar ’n liptint blink nie soos ’n lipglans nie.

...’n vloeibare liptint en ’n mat-lipstiffie:

Hoewel albei formules ’n mat-afwerking het, is die pigment van ’n liptint sterker en sorg vir meer intense kleur. Waar mat-lipstiffies soms ook jou lippe droog kan laat voel, is dit nie die geval met ’n liptint nie omdat die formule meer bevogtigend is.

...’n vloeibare liptint en ’n roomlipstiffie:

Albei is bevogtigend, maar ’n roomlipstiffie het ’n satynafwerking en hou nie so lank op jou lippe nie.

Het jy geweet?

’n Produk met ’n mat-afwerking is ideaal vir groot lippe omdat dit jou mond kleiner laat lyk. Dit beteken egter nie jy hoef ’n vloeibare liptint te vermy as jy dunner lippe het nie, sê Meagan. Tik bloot ’n bietjie deursigtige lipglans bo-oor aan. Omdat dit lig weerkaats, lyk jou lippe onmiddellik voller.

Probeer een van dié produkte:

1. Smashbox Always On Liquid Lipstick in Shockaholic (R310)

2. Inglot HD Matte Lip Tint in #15 (R499)

By uitsoektakke van Edgars

3. Estée Lauder Pure Color Envy Liquid Lip Potion in True Liar (R345)

4. Chanel Rouge Allure Ink in Amoureux (R610)

5. Revlon Ultra HD Matte Lipcolor in Passion (R179)