Met note soos lietsjie, lemoenbloeisel, katjiepiering, marsepein en muskus is Beautiful Belle ’n geur om op verlief te raak – op jou groot dag en oor en oor elke dag.

Maak jou hare los of knip dit kort, sit ’n helder lipstiffie aan of laat jou oë al die aandag kry … wees romanties of gaan rock ’n roll … Soos grimeerkunstenaar en stilis Mari Conradie van Mooistemooi sê: “Gooi ’n bietjie van jou unieke self in jou look and omhels wie en wat jy is!”

Laat Beautiful Belle jou inspireer om met jou trou-voorkoms te waag. Mari wys saam met ons skoonheidspan, aktrise en TV-aanbieder Amalia Uys en industrie-kenner Irusha Kröhn vir jou hóé.

Monica Pienaar, SARIE-skoonheidsredakteur

1. Min-moeite-metaalgrimering 

Ek is mal oor die tendens om een grimeerskakering te kies en dit op jou lippe, wange en oë te gebruik. Gebruik ’n sagte metaalkleur soos roosgoud, brons of koper – dit is subtiel maar steeds treffend.

2. Golwende bob

Hoewel baie bruide hul hare laat groei vir hul spesiale dag, sal ek eerder my hare in ’n bob laat sny en dit golwend en effens deurmekaar stileer. Dis pret dog modern en sexy. Jy kan die styl optooi met ’n fyn blommekrans, ’n mooi haarknip of ’n lang sluier.

Suanné Mulder, SARIE-skoonheidskrywer

3. Staatmaker-lipkleur 

Moenie bang wees om jou lippe met ’n staatmaker-kleur op te tooi nie. Probeer ’n romantiese rooi, pruim of donkerpienk. Dit sal jou hele voorkoms sterk afrond. Verbronser op jou wangbene definieer jou grimeervoorkoms en vorm ’n sterk en treffende kontras met sagte blosser. 

4. Natuurlik en sorgvry

Skep ’n sorgvrye, spontane voorkoms soos Grace Elizabeth in die Beautiful Belle-video. Kies minimale stilering en dra jou hare los met ’n sterk middelpaadjie. Komplementeer jou natuurlike gelaatstrekke met ’n onderlaag en verbronser en kies ’n natuurlike palet uit Estée Lauder se grimeerreeks.

FOTO: Marijcke Willems

Amalia Uys, aktrise en TV-aanbieder

5. Wees koninklik 

Jou rok, grimering en hare moet in harmonie saamwerk. Janita Toerien, wat my trourok ontwerp en gemaak het, het my 100% verstaan. My rok was die perfekte balans tussen boheems en klassiek. Gepraat van boheems – ek is mal oor kristalle en het in plaas van ’n sluier ’n kristalkroon gedra. Die kristalle is deur Kathleen Barry en Shelley and Harry bekom en kom oorspronklik van ’n halssnoer af. My grimering is deur Suna Robberts gedoen – sy het die mooiste rookoë gemaak. Laastens het my donker lippe (fotograaf Hanri Human se voorstel) my look perfek afgerond.

FOTO: Hanri Human

Fotograaf: Hanri Human

Irusha Kröhn FOTO: Jenni Elizabeth

Irusha Kröhn, kreatiewe hoof van Baie Goeters

6. ‘Let go’ en rock ’n roll

Ek het ’n grimeerkunstenaar gekies wat hoofsaaklik in die modewêreld werk. Ek wou nie een hê wat net op bruide fokus nie – it needed to be rock ’n roll. En toe het ek vir haar die vryheid gegee om te doen wat sy wil. Almal het hul eie styl, moenie bang wees om dit te omarm nie. Ook met jou klere: Ontwerpersrokke is onnodig, kry ’n goeie kleremaker en bly weg van Pinterest!

FOTO: Jenni Elizabeth

Rok: Merwe Wed, Grimeerkunstenaar: Nandi Kai, Fotograaf: Jenni Elizabeth

Mari Conradie FOTO: He is Visual

Mari Conradie, grimeerkunstenaar en stilis van Mooistemooi

7. Kies vintage en klassiek 

Die aktrise Rolanda Marais was nog nooit iemand wat by die reëls gehou het nie, en dit is hoekom sy so ’n groot inspirasie is. Ek moes haar hare twee maande voor haar troue kort sny vir ’n film, en toe kies sy om met daardie kort hare te trou. Dit was my inspirasie om vir haar bold rooi lippe te gee, wat pragtig gepas het by haar vintage-styl troue. 

FOTO: Shanna Jones

Fotograaf vir Rolanda Marais: Shanna Jones, Profielfoto van Mari Conradie: He is Visual

Nog wenke van Mari:

1. As jy nie hou van baie grimering nie, moenie dat iemand jou ompraat om baie te dra op jou troue nie. Fokus eerder op een gelaatstrek, soos jou oë, en hou jou lippe dan ’n ligte, natuurlike kleur.

2. Kry ’n grimeerkunstenaar wie se styl die naaste aan jou eie is. Jy kan dadelik op ’n webtuiste iemand se styl sien, só sal hulle jou nie ompraat om iets te doen wat jy nie wil doen nie.

3. As jy nooit jou hare vas of in ’n opstyl dra nie, moet dit dan nie vir jou troue doen nie. Jy gaan die heeltyd bewus wees daarvan en nie die tyd geniet nie.

4. ’n Kort bob is baie in die mode, so as dit iets is waarvan jy hou, dra dit vir jou troue! Baie bruide voel hulle moet hul hare spesiaal laat groei, maar niks sê “fierce!” meer as iemand wat ’n trendy haarstyl rock op haar groot dag nie.

5. As jy nog nooit rooi lippe gedra het nie, moenie dit probeer vir jou troue nie. Pak dit eerder in jou wittebroodtas vir ’n bietjie avontuur.

6. As jy sproete het, moet dit nie toemaak met onderlaag nie!

7. Moenie ’n verbruiningsproduk die dag voor jou troue aanwend nie, jy kort minstens twee dae vir die kleur om natuurlik te wees en nie geel te lyk nie.

8. Breek die reëls! Hou Pinterest-prentjies as inspirasie, maar moenie probeer om soos die modelle te lyk nie. Gooi ’n bietjie van jou unieke self in jou look en omhels wie en wat jy is!

Beautiful Belle is nou landwyd in winkels beskikbaar. Besoek Estée Lauder se webtuiste vir meer inligting! #LoveBreaksAllTheRules