Ongewenste hare is seker die één ding wat vroue die onsekerste oor hulself laat voel, sê Val Millington, eienaar van Spa Afrique in Northcliff, Johannesburg.

Verskillende benaderings tot ontharing is nodig vir verskillende lyfdele, verduidelik sy: “Op party plekke word haargroei deur hormone aangewakker (soos op jou bolip, ken en borste) en om dié dele te waks sal net die probleem vererger,” sê sy.

Vir dié dele beveel sy elektrolise of laserbehandeling aan om permanent met hare klaar te speel. “Jy kan wel hierdie dele skeer,” sê sy en voeg by dat dit wolhaar(!)stories is dat jou hare meer of dikker sal teruggroei as jy skeer.

Die patroon waarin die hare groei, die tipe haar en waar dit voorkom, is die belangrikste faktore in jou besluit oor hoe om daarvan ontslae te raak.

Vir wenkbroue beveel Val byvoorbeeld threading aan (haartjies word behendig met ’n katoendraadjie uitgepluk), want ander metodes soos waks kan hierdie sensitiewe en sagte vel rek. Om gewoonweg te pluk sal ook werk.

“Vir jou onderarms, bikinilyn, boarms en bene, waar haargroei nie deur hormone beïnvloed word nie, kan jy skeer, waks of laser probeer – wat ook al jou sak pas. As jy jonk is, is dit slim om vinnig deur middel van laser van hierdie hare ontslae te raak,” is haar raad.

“Dis belangrik om seker te maak jy vind ’n terapeut wat gekwalifiseer is (Val is self ’n Certified Professional Electrologist), een wat jou unieke eienskappe in ag neem, soos etnisiteit (’n donker vel loop die risiko van pigmentasie), medikasie (sekeres, soos Roaccutane, maak vel sensitief) en ouderdom (soos jy ouer word, verminder estrogeen – dit kan haargroei aanwakker).

Soos genoem, moet hare wat deur hormone beïnvloed word glad nie gepluk of gewaks word nie.”

Kontak val by Spa Afrique: 011 678 5237

77% van SA vroue skeer, 19% waks en 3% verkies om hul hare te hou soos die natuur dit bedoel het
soos volgens ’n opname deur Schick SA.

HAARFEITE

1. Hare groei gemiddeld 7mm per maand.
2. Onderarmhare groei twee keer vinniger as beenhare.
3. Eers in 1915, toe ’n model in ’n moulose aandrok - sonder hare in die oksels - in Harper’s Bazaar gepryk het, het haarlose onderarms hoogmode geword. Dieselfde jaar is die eerste vroue-skeermes bemark.
4. Bene en onderarms is die algemeenste dele waar vroue hare verwyder. In Suid-Amerika is die bikinilyn egter die algemeenste. Dis ook hier waar die Brazilian wax ontstaan het – ’n waks-sessie waarna glad nie veel hare oorbly nie . . .
MANDY'S HAIR REMOVAL CREAM FOR SENSITIVE SKIN (R38,99) was 2009 se onthaarproduk van die jaar in die Consumer Survey of Product Innovation. Dit werk in 5 minute en bevat spanspeksaadolie wat vel bevog. Vier ultrafyn lemmetjies en strokies wat met aalwyn verryk is, maak SHICK QUATRRO FOR WOMAN TRIM STYLE (R89,95) uniek. Vergeet van skeerroom: GILLETTE
VENUS BREEZE (R79,99) het
jelstrokies met botaniese olies
weerskante van die lemme om vel
te bevog.
Los al jou haarkwellings gelyk op met PHILIPS BIKINI PERFECT (R699).
Dié skeermes het verstellings wat
hare skeer, pluk (met ’n epilator) en
kam, en daar’s twee verstellings om lyfhare netjies te knip.Gebruik dit
nat of droog.