Annette Williams, wêreldwye direkteur van opleiding by Aramis & Designer Fragrances in New York, verklap meer oor die raaisel van geur:

OOR REUK AS ’N SINTUIG
“Ons sin vir geur word dikwels as ’n weglaatbare sintuig gesien, maar ons besef nie watter impak geur op ons lewe het nie. Ná jare kan jy nog ’n persoon of oomblik onthou wanneer jy ’n bepaalde geur ruik – selfs al het jy vergeet hoe iemand of die plek lyk. Parfuum is ’n kunswerk wat jou grootste herinneringe met mekaar verbind.”

WANNEER JY 'N GEUR TOETS
“Onthou dat dit ’n rukkie neem vir ’n geur om sy ware persoonlikheid te wys. Dikwels loop vroue weg van iets wat perfek vir hulle sou gewees het. Die hart- en basisnote in sommige parfuums kan eers ná ’n hele paar minute geruik word. Moet ook nooit meer as drie parfuums op ’n slag probeer nie.”

OOR ASCENT
“Die towerkrag het uit die kies en koop van parfuum verdwyn. Met Ascent probeer ons om dit terug te sit. (Ascent is ’n selfoonprogram wat deur Aramis & Designer Fragrances bekend gestel is om jou unieke parfuumpersoonlikheid te help bepaal. Met behulp van beelde, klanke en kleure word jy gelei na ’n geur wat nommerpas is vir jou.) “Dikwels word aan ’n kliënt wat ’n parfuum wil koop, gesê: ‘Jy gaan mal wees hieroor.’
Dit help die kliënt nie veel nie. By Ascent is die fokus op die kliënt: Waarvan sy hou en wat visueel vir haar mooi is.”

OOR DIE KRAG VAN AANRAKING
“Estée Lauder het destyds gesê ons moet die heel beste gee aan almal wat ons aanraak. Dit is dus gepas dat Ascent op ’n iPod Touch werk. Hoewel dit die klant is wat die knoppies druk, is dit ook ’n innoverende manier vir parfuummaatskappye om die verbruiker aan te raak. ”(Ascent behoort binnekort as toepassing op meeste selfone beskikbaar te wees.)