Die meeste van ons is lief vir grimering, maar het jy al ooit gedink hoeveel tyd jy werklik voor jou grimeerspieël deurbring? Verlede jaar het ’n Britse peiling gewys die deursnee-vrou spandeer sowat nege dae per jaar voor die spieël terwyl sy haar grimering aanwend. Dis byna 40 minute per dag … Kan dit ook waar wees vir ons Suid-Afrikaanse vroue?

Wie wil nou kosbare tyd (of te veel geld) aan grimering spandeer? Hiér is ’n paar wenke vir ’n eenvoudiger grimeerroetine waarmee jy steeds goed kan lyk en voel.

#1 Belê in ’n goeie basislaag

Vandag se basislae (primers) doen byna alles! Dit “vul” porieë en fyn lyntjies in sodat jy ’n gladde gelaat het wanneer jy onderlaag aanwend. Baie basislae is ook ontwikkel om velkwessies te behandel en help byvoorbeeld met teenveroudering, om vog in jou vel te behou en te keer dat die chemikalieë in jou onderlaag jou vel penetreer. Met ’n goeie basislaag sal jy ook vind jy’t minder onderlaag nodig.

#2 Verligter is ’n moet

Al hoe meer internasionale en plaaslike bekendes, soos die aktrise Drew Barrymore en ons eie Minki van der Westhuizen, verklap dat ’n paar tikkies verligter (highlighter) soggens die geheim is om hul gelaat op te helder vir ’n vars, gesonde voorkoms.

Tik verligter aan op jou wangbene, die brug van jou neus, jou oogbanke en ken. Dit is die dele van jou gesig waar lig natuurlik val. ’n Vloeibare formule skakeer die maklikste in sodat dit lyk asof jou vel van binne gloei.

#3 Skep subtiel rokerige oë

Subtiel rokerige oë is perfek vir elke dag en supermaklik om te skep.

* Gebruik ’n sagte bruin oogpotlood of oogskadu en trek ’n lyntjie teenaan jou boonste wimperlyn. Skakeer (smudge) dit dan met ’n kwassie in totdat dit rokerig lyk.

* Wend ’n laag of twee maskara op jou wimpers aan en moenie vergeet om jou wenkbroue liggies in te vul en netjies te kam nie.

#4 Twee staatmaker-lipstiffies is genoeg

Jy’t net twee lipstiffies wat by enige geleentheid sal pas in jou grimeersakkie nodig: ’n helder lipstiffie en ’n neutrale een.

* Kies ’n lipstiffie in ’n helder rooi of pienk vir treffende lippe.

* Kies as tweede lipkleur ’n neutrale skakering met roospienk ondertone – dit pas by die meeste velkleure en lyk altyd stylvol.

  It's all about layering when it comes to mascara. Visit BobbiBrown.com and a Bobbi Live Chat Artist will help you find the perfect combo.   A photo posted by Bobbi Brown Cosmetics (@bobbibrown) on

Bronne: www.telegraph.co.uk, www.redbookmag.com

Lees nou

Nuwe trend: Chroom-naels!

5 dinge wat jy moet weet voor jy haarkapper toe gaan