Wat ’n begeerlike kleur! Cleopatra het reeds in die 1ste eeu v.C. haar lippe met blomekstrakte skarlaken gekleur, en eeue lank is daar gesoek na ’n geskikte, veilige pigment om lippe en wange blosend te maak.

In die Middeleeue en Renaissance-tydperk was die gebruik van mineraalpigmente vir rooi verf ’n gewilde keuse in skilderkuns, en teen die 18de eeu is rooi ysteroksied-pigment eindelik in laboratoriums vervaardig. Die vraag na dié kleur was egter steeds onversadigbaar.

In die 20ste eeu was daar beroemde vroue wat spesifiek vir hul bloedrooi lippe onthou sal word: van Marilyn Monroe tot Madonna, Evita Peron, en meer onlangs Gwen Stefani en Dita Von Teese.

Kunstenaar Pablo Picasso se dogter Paloma het in die 80’s munt geslaan uit haar ikoniese rooi lippe in die vorm van ’n kenmerk-lipstiffie: Paloma Picasso Mon Rouge Lipstick (nie plaaslik beskikbaar nie).

Dit was net ‘n kwessie van tyd voor vroue dié vuurwarm kleur kop toe gevat het.  Mandy Austin-Roche, bemarkingsbestuurder van L’Oréal Paris, vertel dat rooi haarkleursel nie verniet een van hul beste verkopers is nie: slegs omtrent 2% van die bevolking is geseën met natuurlike voshaarlokke - die res van ons moet dié voorkoms met behulp van die bottel naboots.

Volgens Mandy is SA vroue nie bang om te waag wanneer dit by hul krone kom nie. Haar persoonlike rooi gunsteling uit die L’Oréal-reeks is Feria Cardinal no. 67: “Dit is ‘n dramatiese en sterk kleur, maar tog nie oordonderend nie.”

Estée Lauder Signature Lipstick in Rich Red.

Haar lippe skilder sy graag rooi met L’Oréal Colour Riche Gold Sunset Red, ’n terracotta-skakering: “Dit beklemtoon my vel se warm ondertoon en bring lewe na my gesig. Ek is mal oor ‘n rooi lipstiffie, want dit verklap so baie van wie jy is: dit is elegant en sexy, maar terselfdertyd sterk en onbeskaamd.”

Leila Marx, nasionale opleidingsbestuurder van Estée Lauder, glo rooi is so gewild in skoonheid omdat - ouvroustories ten spyt - dit ‘n kleur is wat almal kan dra: “Blondines, rooikoppe en brunette - daar is ‘n skakering vir almal. Rooi maak ’n selfversekerde stelling wanneer jy dit die nodigste het.”

Haar gunsteling-lipstiffie is Estée Lauder Signature Lipstick in Rich Red, wat in Februarie vanjaar op die rakke verskyn het: “Dit bly vir ses uur perfek op jou lippe. Die kleur vervaag nie - wat baie belangrik is, veral wanneer dit by rooi kom.”

Adele du Plessis, kommunikasiebestuurder van Revlon, sê iets gebéúr met ‘n vrou wanneer sy dit waag om rooi te dra: “Dit is asof haar dapper en waaghalsige gees na vore kom. Daar is geen ander kleur wat so ’n dramatiese impak in skoonheid maak soos rooi nie.” Volgens haar is ’n tikkie rooi die ideale manier om 1940’s-glans na jou lewe te bring: “Skep ’n foutlose fluweel-voorkoms met jou onderlaag, en hou die blosser lig. Voeg dan gesofistikeerde bekoring by met die regte tipe rooi lipstiffie vir jou velkleur - en wend dit laag op laag aan vir ’n luukse gevoel.” Adele se groot gunsteling uit Revlon se reeks is Revlon Red, maar Volcanic Red, Fire & Ice en Wine with Everything (almal R79,95 elk) is ook skakerings wat hoog op haar “moet-hê”-lys verskyn. Maar hoe weet jy watter rooi is reg vir jóú lippe? As jy ’n ligte vel het, sal ‘n skakering met ‘n blouerige ondertoon jou gelaat verhelder, terwyl vroue met olyfkleurige velle weer tot hul reg kom in skakerings met geel ondertone. Kenners meen dat jy jou verder deur jou persoonlikheid moet laat lei. As jy dalk nog twyfel oor bloedrooi lippe, probeer eers ’n ligter, deurskynende rooi glans waarmee jy gemakliker voel.

Rooi naels is nog ’n opsie om ’n tikkie skarlaken in jou lewe te bring.

Kies ’n skakering wat pas by jou rooi lippe. Kleur op jou vingerpunte is nooit uit die mode nie en altyd super-elegant, solank jy sorg dat jou hande mooi versorg is voor jy die rooi botteltjie nadertrek. Hou verkieslik jou naels kort en effens vierkantig gevyl, en onthou die basislaag om vlekke op jou naels te voorkom, asook die deursigtige bolaag vir beskerming en ekstra glans. As jy werklik waaghalsig voel, kan jy inspirasie kry by Dita Von Teese: sy los die halfmaantjie by die basis van die nael wit, en laat die res bloedrooi verf!

Elizabeth Arden is ’n skoonheidshuis wat ook bekend is vir hul viering van rooi - veral in die vorm van hul Red Door-parfuum.

Inge Ferreira, bemarkingsbestuurder van Elizabeth Arden se parfuumafdeling, vertel dat dié parfuumnaam sy oorsprong het op die openingsdag van Elizabeth Arden se eerste salon in 5th Avenue, New York. Die blomme wat vir dié dag bestel is, is nooit afgelewer nie, omdat die bloemiste gekla het hulle kon nie die salon opspoor nie. Elizabeth het toe summier besluit om die deur van haar salon rooi te verf - en sedertdien het niemand dit weer misgeloop nie.

As jý dus nooit weer misgekyk wil word nie, is rooi beslis die kleur vir jou!