Naelkuns raak net al hoe groter in die skoonheidswêreld en baie internasionale en SA glanspersoonlikhede eksperimenteer graag daarmee.

Kelly Osbourne, Lily Allen, Rihanna, Zooey Deschanel en Cara Delevingne volg almal die neiging. En op plaaslike bodem hou ons bekendes net so baie van naelkuns – die sangeresse Andriëtte en Corlea Botha deel elke dan en wan ’n foto van hul interessante naels op Twitter.

FOTO: Elmari de Vos FOTO: Elmari de Vos

“Ek dink met naelkuns wys jy vir mense 'n meer waaghalsige kant van jouself,” sê Andriëtte.

Haar gunsteling-gier is om al haar naels een kleur te verf en dan naelkuns op net haar ringvingers te doen.

“As jy elke nael versier, raak dit vir my te besig en dan neem dit jou hele voorkoms oor. Ek dink jy moet dit subtiel doen."

Met al die interessante produkte vir naelkuns wat die kantoor instroom, het SARIE se skoonheidspan die afgelope tyd self hiermee geëksperimenteer...

Helder kleure, tekstuur, blink versierings, patrone en die Franse manikuur met helder kleure is van die seisoen se gunstelinge. Hier is foto's van hoe ons dié giere getoets het.

Naels van Marchesa

Die modehuis Marchesa het met Revlon saamgespan om hul interessante ontwerpe ook na naelkuns te bring met die Revlon by Marchesa-reeks (R90). Dié ontwerpe word verkoop as plakkers – jy kies die regte grootte uit jou boksie plakkers, sit dit op jou naels en gebruik ’n naelvyl om die plakker perfek op jou nael te laat pas.

Tekstuur & kleur

Gee jou naels helder tekstuur met Essence Effect Nails 3D Pearls (R30). Jy verf naellak aan, strooi die korreltjies daaroor terwyl die verf nog nat is en wag dat dit droog word!

Interessante manikure

Die halfmaan-manikuur, waar jou nael se halfmaan-gedeelte ’n ander kleur as die res van jou nael geverf word, en 'n Franse manikuur met 'n helder kleur is hoogmode. Om dit makliker te maak het Essence ’n spesiale verfkwas, Essence French Manicure Brush (R20), gemaak waarmee jy dié effek kan skep.

FOTO: Elmari de Vos FOTO: Elmari de Vos

Denim

Denim is altyd in die mode en dié seisoen is dit ook gewild op jou naels! Probeer naellak uit Maybelline se denimreeks, Color Show Denim Nail Color (R40 elk), vir die denimvoorkoms op jou vingerpunte.

FOTO: Elmari de Vos FOTO: Elmari de Vos

Te waaghalsig?

Is naelkuns effe te besig of waaghalsig na jou smaak? Probeer dan om net jou wysvinger ’n ander kleur as die res van jou naels te verf.

Jy kan dit ’n helder, kontrasterende kleur verf of selfs 'n naellak met 'n bietjie blink gebruik.