Dis nou die tyd om met helder kleure vir jou lippe en naels te eksperimenteer, sê Gucci Westman, internasionale grimeerkunstenaar van Revlon, wat al Hollywood-sterre soos Drew Barrymore, Gwyneth Paltrow en Natalie Portman grimeer het. Sy het verlede week ’n paar grimeerwenke met SARIE vanuit New York gedeel.

FOTO: Amanda Schwab FOTO: Amanda Schwab

Wat is die drie grootste grimeertendense hierdie seisoen?

Helder lippe, veral oranje, fuchsia en koraalkleurige lipstiffie. Kleurryke, prettige naels. Probeer kleure soos blou of skep ’n Franse manikuur met ’n blink punt. Bronskleurige oogskadu en verbronser vir jou gesig is ook groot nuus.

Daar word tans baie verligters (highlighters en illuminators) bekend gestel. Wat is die beste manier om dit te gebruik?

Gebruik ’n verligter op die dele van jou gesig wat ‘hoër’ is, soos die bokant van jou wangbene, die brug van jou neus en op jou ken. Moenie te veel van die produk op ’n slag aanwend nie omdat dit baie glans aan jou vel gee. Vermy liefs hierdie produkte as jy ’n probleemvel het.

Donker bessiekleurige skakerings vir lippe kry ook nou baie aandag. Is dit ’n kleur wat almal kan dra?

Dis ’n baie mooi skakering, maar dis belangrik dat jou lippe in ’n goeie toestand is as jy dit wil dra. Skilfer jou lippe eers af om seker te maak daar is geen velletjies nie. Bevog dan jou lippe met ’n goeie lipsalf. Hierdie kleur lyk die beste as jy die res van jou grimering eenvoudig hou: ’n vars gelaat en nie te veel grimering op jou oë nie. Jou lippe moet die praatwerk doen.

FOTO: Amanda Schwab FOTO: Amanda Schwab

Is dit gepas vir vroue met dunner lippe?

Ek is nie mal oor ’n sterk kleur vir vroue met dunner lippe nie. Dit kan baie hard lyk. Gebruik eerder ’n rooskleur of ’n skakering wat jou lippe se natuurlike kleur beklemtoon.

Wat is die vinnigste manier om jou grimeervoorkoms van ’n dag- na ’n aandvoorkoms te verander?

Die maklikste is om ’n mooi lipstiffie aan te wend of ’n vloeibare oogomlyner op jou boonste ooglid te gebruik.

Wat is die grootste grimeerfout wat vroue maak?

Wanneer hulle te veel poeier of te veel onderlaag gebruik, veral as jy ’n mooi vel het. As jy ’n probleemvel het, hoef jy ook nie baie onderlaag te gebruik nie. Wend onderlaag op die dele aan wat ’n probleem is en laat die res van jou vel asemhaal.

Probeer

Revlon Nail Enamel in Fuchsia Fever (R90) Revlon Nail Enamel in Fuchsia Fever (R90)

Revlon Colorstay Ultimate Suede Lipstick in Muse (R145) Revlon ColorStay Ultimate Suede Lipstick in Muse (R145)

Revlon Photoready Skinlights Face Illuminator in Pink Light (R189) Revlon Photoready Skinlights Face Illuminator in Pink Light (R189)

* Die produkpryse is voorgestelde pryse en mag verskil van winkel tot winkel.