Ná 3 kinders wil ek my borste laat lig (mastopeksie). Wat kan ek verwag?
Dit word gewoonlik met skemernarkose (bewuste sedasie) gedoen. Jy is ontspanne, slaperig en glad nie bewus van die prosedure nie. Jy voel verfris as jy wakker word, sonder die newe-effekte van narkose. Die prosedure duur 1½ tot 3½ uur en jy gaan dieselfde dag huis toe. Jou borste is daarna gekneus, geswel en dis ongemaklik vir ’n dag of twee, maar die pyn behoort nie te erg te wees nie. Die verbande en dreineerpype word binne 3 – 5 dae verwyder en jy dra vir 3 – 4 weke dag en nag ’n sagte, ondersteunende bra. Die steke word ná 1 – 2 weke uitgehaal. Beplan om ’n week of selfs langer van die werk af te bly. Jy het daarna permanente letsels, maar gewoonlik word die prosedure só gedoen dat jy steeds klere met ’n lae hals kan dra. Mettertyd vervaag dit tot dun, wit lyne. Jou borste bly nie permanent ferm nie swaartekrag, ouderdom, swangerskap en gewig wat wipplank ry, gaan oor die jare weer hul tol eis, maar as jy terselfdertyd ’n borsinplanting kry en jou gewig stabiel bly, sal die resultate langer blywend wees. Vanaf R39 000 (sonder inplantings)

Doen plastiese chirurge nog ontrimpelings (facelifts), of het Botox en vullers die mark oorgeneem?

Daar is beslis nog plek vir die ontrimpelingsoperasie. Maar met die “moderne ontrimpeling” word minder vel verwyder en meer volume (met bv. vet-inspuitings) op spesifieke plekke gegee om jou gesig meer natuurlik te laat lyk. As jy Botox en vullers gebruik, kan jy tog die ouderdomsproses vertraag sodat jy eers later ’n ontrimpeling sal oorweeg. Vanaf R65 000

Ek hoor dikwels van plastiese snykunde wat skeefloop omdat die dokter nie weet wat hy doen nie! Kan jy vra om met vorige pasiënte te praat?

Ja, jy kan. Jy kan ook vra om na voor-en ná-foto’s te kyk. Maak seker jou dokter is lid van die Vereniging van Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurge van Suid-Afrika (APRSSA). Besoek www.plasticsurgeons.co.za vir name.

Wat is die opwindendste onlangse deurbraak in teenveroudering?

  1. In die geval van borsvergrotings is dit die sogenaamde “ontwerperinplantings”. Die traandruppel- (of anatomiese) borsinplantings is voller aan die onderkant om ’n natuurlike “peervormige” bors na te boots. Baie vroue is sku vir die “spanspek”-voorkoms, soos Posh Spice s’n, wat die “ronde” inplanting jou gee. Vanaf R36 000
  2. Met gesigsverjonging word jou eie vet oorgeplant om jou gesig weer daardie jeugdige volheid te gee (lipovulling). Vet word met liposuiging uit jou lyf gehaal, verwerk en dan ingespuit. Jy kry narkose en swelling kan tot 6 weke daarna voorkom. Vanaf R12 000

Wat sal jy nooit doen nie, of wat sal jy jou vriende afraai om te doen?
Ek sal wegbly van ’n aggressiewe ontrimpeling. Gaan liefs op ’n vroeër ouderdom meer gereeld vir kleiner prosedures (soos Botox en vullers).

Wat is jou topwenk om mooi oud te word?
Wees gelukkig met hoe jy vandag lyk. Jy is jonger as wat jy ooit weer gaan wees!

Kontak: 021 422 4811, capetown@drnwilkinson.co.za, www.rensurg.co.za