
Ons besef al hoe meer ons leefstyl beïnvloed hoe mooi ons uiterlik lyk en hoe goed ons voel. Dit gaan nie meer net oor wat jy van buite doen vir ’n mooi, gesonde vel nie, maar ook hoe jy dit van binne voed. Om dié rede is die wêreld tans gaande oor ’n nuwe "wonder"-drankie: matcha-groentee! Nie net gee dit net soveel skop soos ’n koppie koffie nie, dit kan ook help vir ’n probleemvel.
Matcha is groenteeblare wat tot ’n baie fyn poeier gemaal word. Die heldergroen poeier word dan met warm water gemeng en dikwels in die plek van koffie gedrink omdat dit ook kafeïen bevat.
Hoewel dié vorm van groentee al eeue lank in tradisionele Japanse teeseremonies gebruik word, het dit eers die afgelope drie jaar wêreldwye aanhang begin kry. Die aktrise Gwyneth Paltrow was van die eerste bekendes wat die voordele van die trendy groenteedrankie verkondig het. Deesdae is matcha-groentee ’n voorste verkoper in gesondheids- en teewinkels en word dit in alles van smoothies tot melkskommels, soetgebak en quiches gebruik.
Maar waaroor die bohaai?
Omdat matcha behels dat jy ’n verpoeierde vorm van groenteeblare inneem, bevat dit byna drie keer soveel aktiewe bestanddele as gewone groentee (waar gedroogde groenteeblare vir ’n tydjie in warm water getrek word), berig die Britse koerant The Telegraph aanlyn.
Dit bevat kragtige antioksidante wat die vermoë het om jou velselle teen toekomstige skade deur omgewingsfaktore soos die son, besoedeling, stres en ’n ongesonde dieet te beskerm, sê Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl.
Dit bevat ook ’n ster-bestanddeel, bekend as epigallokatechien-gallaat of EGCG, wat onder meer help om die verouderingsproses van jou velselle te vertraag sodat jou gelaat ferm en plomp lyk, sê sy. Studies het selfs al getoon dat hierdie bestanddeel aknee kan verbeter deurdat dit hormoonvlakke stabiliseer en só help dat jou vel nie oortollige sebum vervaardig nie.
Probeer dit self:
As jy sélf die superdrankie wil beproef, maak seker jy gebruik ’n organiese matcha-poeier van hoë gehalte wat van Japan ingevoer is. Hoewel dit jou ’n paar rand uit die sak gaan jaag, word met ’n goeie matcha-poeier verseker dat die minimum voedingstowwe verlore gaan tydens die vervaardigingsproses. Die top-produkte proe ook minder bitter as dié van ’n laer gehalte.
Kry jou matcha-groentee hiér:
In Kaapstad:
• Clarkes Bar and Dining Room
• Dear Me
• Plant Café
In Johannesburg:
• Fruits & Roots
• The Grind Coffee Company
• The Juiced Co Health Shop
In Pretoria:
• Natural Life
Besoek ook Faithful-To-Nature.co.za of www.justmatcha.co.za aanlyn.
Bykomende bronne: www.eatout.co.za, www.telegraph.co.uk, www.banishacnescars.com, www.healthambition.com