Op 8 Mei 1913 het Gabrielle (Coco) Chanel haar eerste eksklusiewe boetiek in die Franse kusdorp Deauville oopgemaak. En daarna was die mode- en skoonheidswêreld nooit weer dieselfde nie...

Dié geskiedkundige dag word binnekort gevier wanneer Keira Knightley die betowerende Coco Chanel laat herleef in ’n nuwe kortfliek. Coco se legandariese skoonheidshuis, Chanel, het ’n rolprent, Once Upon a Time, gemaak. Die gebeure van 8 Mei 1913 is volgens Vogue UK die kern van dié swart-wit fliek.

Die modehuis se kreatiewe direkteur, Karl Lagerfeld, is die regisseur.

Die fliek is propvol bekendes. Nie net is Keira Knightley op die skerm nie, maar ook die Franse aktrise Clotilde Hesme. Die modelle Stella Tennant en Lindsey Wixson speel in die rolprent, sowel as Jamie Bochert, Caroline de Maigret en Baptiste Giabiconi. Daar is ook bekende ouers-en-kinders in die kort rolprent – lady Amanda Harlech en haar dogter, Tallulah, én Brad Kroenig en Hudson, sy seun.

'n Toneel uit Once Upon a Time

Dit word Woensdag – presies ’n eeu ná Coco Chanel se eerste boetiek oopgemaak is – in Singapoer vertoon. Dan kan jy dit op chanel-news.com gaan kyk!

Sien jy so baie soos ons uit hierna? Kyk solank die voorskou!