Ons is altyd nuuskierig om meer oor bekendes se staatmaker-velsorggewoontes en -geheime te leer. Victoria Beckham het al vertel dat sy glo ’n daaglikse porsie salm laat haar vel straal. Nou het die supermodel en werklikheidster Kendall Jenner onthul dat haar gladde veltekstuur en byna onsigbare porieë onder meer aan ’n eenvoudige DIY-masker toegeskryf word, berig Refinery29 aanlyn.

Met! @tiffanyandco #tiffanypaperflowers #ad

A post shared by Kendall (@kendalljenner) on

Die 22-jarige het op haar webtuiste haar DIY-maskerresep vir ’n gladde en akneevrye vel gedeel. Sy meng eierwit en suurlemoensap en wend dit op haar vel aan. Dit skilfer glo haar vel liggies af en help om die pH te balanseer sodat die porieë kleiner lyk en haar veltekstuur glad is. Kendall het voorheen al erken dat sy in haar tienerjare baie gesukkel het met aknee en verstopte porieë. Sy glo dié masker voorkom ’n probleemvel omdat dit haar veloppervlak skoon hou en keer dat onsuiwerhede in haar porieë gaan lê.

Maar wat sê ’n velsorgkenner van dié masker?

Sonette Donker, velsorgkenner van die velsorgkliniek Skin ID in Johannesburg, sê jy moet altyd versigtig wees om kombuisbestanddele op jou vel te gebruik. “Hoewel die suur in die suurlemoensap wel dooie selletjies op jou vel se oppervlak kan oplos, irriteer dit meer jou vel.” Dit droog jou veloppervlak uit en stroop dit van sy natuurlike olie. Dít kan weer lei tot ’n oorproduksie van olie. “Die molekules van die meeste kombuisbestanddele is ook nie klein genoeg om jou vel doeltreffend te penetreer nie en is dan geneig om net jou veloppervlak te irriteer,” sê sy.

As jy die voorkoms van jou porieë wil verklein en keer dat dit gereeld verstop word, stel Sonette voor jy kyk uit vir ’n gesigmasker wat klei en salisielsuur (salicylic acid/BHA) bevat. Klei trek onsuiwerhede uit, terwyl salisielsuur binne-in jou porieë afskilfer om te verseker dat oortollige olie en dooie selletjies jou porieë nie verstop en dit groter laat lyk nie.

Probeer dié produkte:

1. L'Oréal Paris Pure Clay Blemish Rescue Mask (R160)

’n Unieke klei-mengsel en blou alge in die masker help om knoppies in bedwang te hou.

2. Eucerin DermoPurifyer Oil Control Skin Renewal Treatment (R240)

’n Kombinasie van sure in die behandeling help om aknee hok te slaan. Wend dit ná reiniging oor jou hele gesig aan.

3. Bioderma Sébium Sensitive Soothing Anti-Blemish Care (R260)

’n Vogroom wat geskik is vir selfs die sensitiefste vel.

4. SVR Sebiaclear Active Intensive Care Spots, Blackheads Anti-marks (R265)

Buiten dat dit help vir aknee, behandel die vogroom ook rooiheid en help dit om die voorkoms van porieë te verbeter.

5. OXY Sensitive Daily Moisturiser SPF 15 (R50)

Die vogroom vir ’n sensitiewe akneevel bevat ook ’n SBF as beskerming.

Bykomende bronne: www.refinery29.com, www.marieclaire.co.uk