Vier die begin van lente met dié nuwe tendens vir jou naels en lippe – neonkleure! Helder neon soos pienk, groen, oranje, geel en pers pas perfek by ’n sonbruin lyf, sê Suzi Weiss-Fischmann, mede-eienaar van O.P.I.

Hier is die skoonheidspan se topwenke vir neonkleurige naels en lippe:

Neon-lippe

1. Dis belangrik om jou lippe liggies af te skilfer voor jy ’n neonkleurige lipstiffie aanwend. Die helder kleurpigmente kan jou lippe maklik uitdroog. Meng ’n bietjie bruinsuiker met petroleumjellie vir ’n tuisgemaakte lip-afskilferaar. 2. Om die kleur op jou lippe so intens en helder as moontlik te maak kan jy eers jou natuurlike lipkleur verbloem deur ’n tikkie onderlaag aan te wend.
Wenk: Kies ’n neonpienk skakering as jy ’n ligte gelaat het, ’n oranje of koraalkleurige skakering vir ’n warmer goue gelaat en helder pers en bessie-skakerings vir ’n donker gelaat.

3. Omlyn jou lippe met ’n lippotlood in ’n naakkleur (nude). Só verseker jy dat jou helder lipkleur langer hou en nie van jou lippe afsmeer nie.

4. Wend jou neon-lipstiffie met klein hale van die middel van jou lippe na buite aan. Vir ’n mat-afwerking kan jy daarna jou lippe liggies op ’n sneesdoekie klad.

5. Hou die res van jou grimering eenvoudig.

Probeer: Maybelline Baby Lips Electro in Pink Shock (R30), Revlon ColorBurst Matte Balm in Audacious (R130), Clinique Long Last Soft Matte Lipstick in Matte Plum (R255)

Eksotiese skakerings vir jou naels - lees meer!

Neon-naels

1. Naellak in neonskakerings kan maklik deursigtig en streperig lyk op jou naels. Laat jou neonkleurige naellak tot sy reg kom deur eers ’n dun lagie wit of selfs silwer naellak aan jou naels te verf.

2. Sodra die wit of silwer heeltemal droog is, wend twee tot drie lagies naellak in ’n neonskakering aan.

Kry só lente op jou naels

3. Om jou naels ’n ekstra blink voorkoms te gee kan jy twee lagies deursigtige naellak bo-oor die neonskakering verf.

Probeer: O.P.I Nail Lacquer in Push & Pur-Pull (R160) en Put a Coat On! (R195), Ice Box Colors in Lime Ice (R110 vir 15 ml), Wet n Wild Wild Shine Nail Color in Sunny Side Up (R25, by Clicks)

Kry intense kleur vir jou lippe met dié produk