By onlangse vertonings van modehuise soos Christian Dior, Chanel, Anna Sui en Versace was skoonheid eenvoudig, maar treffend. Omskep hierdie loopplank-inspirasie só vir die kantoor:

¦ ’n Gloeiende, gesonde gelaat straal warmte in selfs die koue wintermaande uit. Kry dié voorkoms met ’n blosser in ’n heuning-skakering, koperkleurige oogskadu en ’n rooskleurige lipglans.

¦ Swart, rokerige oë is ’n gunsteling, maar beslis te swaar vir die kantoor. Probeer ’n bruin, rokerige oog vir ’n meer subtiele voorkoms. ’n Vlootblou of eiervrug-pers kleur sal ook werk.

¦ Kombineer eenvoudige swart oogomlyner met ’n helderpienk lipglans. Dit is vroulik, sag, maar steeds ooglopend. Ruil die lipglans vir ’n rooi lipstiffie om ’n stelling te maak.

¦ Bêre vir eers die krultang en trek jou stileeryster nader. Reguit, gladde hare met ’n middelpaadjie is ’n kragtige styl wat ’n indruk skep. As jy voel dat jy steeds krulle wil hê, skep los krulle en dra ’n kantpaadjie.

¦ ’n Korter haarstyl is terselfdertyd gemaklik én indrukwekkend. Dié seisoen se gunstelinge is ’n sagte bob met los krulle, ’n skerp asimmetriese styl, of ’n pixie-snit.