Sy het oornag Hollywood se hart gesteel. Die wêreld kan nie uitgepraat raak oor die jong Lupita Nyong'o, wat Sondagaand ’n Oscar-toekenning vir haar rol in 12 Years a Slave ontvang het, se talent as aktrise, haar modesin én haar skoonheid nie.

Maar die 31-jarige Keniaan het verlede week by die tydskrif Essence se jaarlikse Black Women in Hollywood-middagete vertel sy onthou hoe sy as kind glad nie mooi gevoel het nie omdat haar vel so donker is.

"My selfhaat het erger geword as tiener," het sy in haar inspirerende toespraak gesê. Haar ma het vir haar gesê jy kan nie skoonheid eet nie, dit voed jou nie. Lupita het eers later dié woorde verstaan. "Wat my ma bedoel het, is dat jy nie net op skoonheid kan staatmaak nie, maar dat deernis belangrik is – vir jouself en vir diegene om jou. Dis hierdie tipe skoonheid wat die siel betower. Ek hoop dat jong vroue sal weet hul uiterlike skoonheid is geldig, maar dat hulle ook moet streef om mooi van binne te wees."

Kyk na Lupita se inspirerende toespraak hier