As jou lippe die praatwerk doen, hoef jy nie veel meer as ’n bietjie maskara, oogomlyner en verbronser daarby aan te wend nie. Maar hoe gemaak as jou lippe vinnig droog en krakerig lyk, veral tydens die wintermaande? Probeer dié maklike lipskrop-resep wat jou lippe gesond en sag laat en die kleur van jou lippe eweredig laat vertoon.

Jy benodig:

• 1 teelepel heuning

• 1 teelepel bruinsuiker

• 1 teelepel olyfolie

• ’n Knippie fyn kaneel

Meng bloot al die bestanddele saam en wend dit met jou ringvinger in klein sirkelbewegings op jou lippe aan.

Die growwe bruinsuiker verwyder los en dooie velletjies, terwyl die olyfolie en heuning jou lippe bevog. Die kaneel plomp die lippe op omdat dit bloedvloei stimuleer en ’n tintelende effek het.

Vir sagte lippe in ’n kits kan jy ook die aktrise Rachel Bilson se raad volg – sy sit petroleumjellie op haar lippe en gebruik dan ’n tandeborsel om dooie velletjies liggies te verwyder. Dra nou jou lipstiffies en -glanse met selfvertroue!

Probeer ook die produkte om jou lippe mee af te skilfer:

1. Lush Bubble Gum Lip Scrub (R331)

2. MAC Lip Scrubtious (R315)

3. The Body Shop Lipscuff (R130)