Die skoonheid- en modewêreld loop hand in hand. Deesdae begin al meer ontwerpers met skoonheidshuise saamwerk om vir produkte ’n unieke voorkoms te gee!

Lancôme en ontwerper Alber Elbaz

Die mode-ontwerper Alber Elbaz (in die skets bo) van Israel werk al vir langer as tien jaar vir die modehuis, Lanvin. Hy was ook ’n ontwerper by Yves Saint Laurent. Nou het hy vir van Lancôme se sterprodukte ’n nuwe baadjie aangetrek! Vier van hul gewilde maskaras is met sy ontwerpe versier: Hypnôse Doll Eyes Show OS (R335) word versier met rooi en swart getekende harte, Hypnôse Star Show (R335) met blou en swart sterre, Hypnôse Drama Show (R335) met swart en pienk kolletjies en die klassieke Hypnôse Show (R315) het sketse van oë daarop.

Ook die Hypnôse Show Doll Eyes Mono-oogskadu (R305) en die Hypnôse Show Drama Mono-oogskadu (R305) is in dié spesiale verpakking te koop. Beskikbaar by uitsoektakke van Edgars.

Nails Inc – loopplank-kleur vir jou naels

Ons is mal oor die helder skakerings waarin Nails Inc se naellak beskikbaar is. Thea Green, die eienaar van Nails Inc, was eers ’n moderedakteur by die Britse tydskrif Tatler. Deesdae werk sy agter die skerms van die gewildste modeweke en skryf ’n blog oor wat sy daar sien. Die grootste tendense by dié modeweke dien dan ook as inspirasie vir Nails Inc se volgende reeks skakerings, wat gewoonlik ’n paar weke ná die modevertonings beskikbaar is.

Met die Somer/Lente 2013-modeskou het Gucci en Matthew Williamson Nails Inc geïnspireer om skakerings van helderpienk, salmpienk, vaalblou, kruisement en oranje te maak. Vandaar die skakerings (onder, van links) Chelsea Physic Gardens (R110), Kensington Palace Gardens (R110), Westbourne Grove (R110) en Notting Hill Gate (R110). Dié produkte is almal trots Brits – al Nails Inc se naellak-skakerings word vernoem na bekende plekke in Londen.

FOTO'S: verskaf FOTO'S: verskaf

Tweezerman – als behalwe vervelig

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Tweezerman maak skoonheidsgereedskap opwindend wanneer hulle elke jaar hul beperkte reeks haartangetjies, versier deur verskillende bekende ontwerpers, bekendstel. Betsey Johnson en Cynthia Rowley is onder die ontwerpers wat dié reekse in die verlede versier het.

Die nuutste beperkte reeks is die Slant Tweezer en Mini Slant Tweezer wat ontwerp is deur Isaac Mizrahi, ’n New Yorkse modeontwerper, en is beskikbaar in twee patrone. Die eerste patroon is wit met helderkleurige kolle (links) en die tweede een herinner aan die 80’s met bont ‘verfspatsels’ (regs). Dié helder reeks van Isaac Mizrahi is vanaf Januarie beskikbaar vanaf R450.