As die kwik begin daal, kan jou voorkoms dit ontgeld. Maar gelukkig het ons skoonheidsprodukte met hul wortels diep in Afrika om jou gelaat sprankelend en jou hart warm te hou.
Eeue lank al word aalwyn, maroela-olie, galambotter, ilang-ilang en moringa-olie in skoonheidsrituele gebruik vir hul unieke bestanddele, maar dis eers onlangs dat ons die werklike waarde van dié Afrika-ekstrakte begin begryp het, sê dr. Aubrey Parsons, navorsingswetenskaplike vir die plaaslike velsorgreeks Nimue.
“Mense in plattelandse gebiede gebruik dit al honderde jare. Maar dis eers die afgelope drie jaar dat ons werklik begin begryp hoekom hierdie bestanddele so voordelig vir ons vel is.”
Dr. Parsons was onlangs in die Kalahari waar hy saam met die Khoisan navorsing gedoen het oor grondstowwe vir skoonheidsprodukte. Hy vertel graag hoe hy nooit voorheen gedink het hy sou ’n sangoma vir sy navorsing raadpleeg nie!
“Maar hulle is briljant. Hoewel hulle nie die chemie verstaan nie, weet hulle presies watter deel van ’n plant vir watter kwaal gebruik moet word.” Elke element van ons kontinent het ’n unieke “vingerafdruk”, verduidelik hy, en verskille tussen elemente kan reeds by die inhoud van vitamienes, spoorelemente en aminosure waargeneem word.
“Dis waarom skoonheidsprodukte dikwels ’n vermenging van ’n paar botaniese ekstrakte bevat, omdat een in isolasie nie noodwendig aan al jou vel se behoeftes sal voldoen nie.”
Om na Afrika te kyk vir skoonheidsinspirasie word ’n al hoe groter neiging, en dr. Parsons glo die grootste deel van ons ontdekkingstog begin nou eers.

1. MAGIESE MORINGA-OLIE
Een van die kosbaarste besittings van die antieke Romeinse, Griekse en Egiptiese beskawings was die moringaboom se olie. Die inwoners het dit veral vir velbeskerming en parfuum gebruik.
Hulle was só beïndruk deur die resultate van dié olie dat hulle selfs hul eie skoonheidsproduk (byna soos die rome wat ons vandag ken) gemaak het om die vel soepel en glad te hou.
Hierdie skoon, satyngladde olie van die saad van die moringaboom is reeds meer as 4 000 jaar gelede in Indiese geneeskunde gebruik en word in Tanzanië as ’n gesogte teenverouderingsbehandeling ingespan.
Dis ook in dié Afrika-land waar die moringaboom as die “wonderboom” bekend staan, omdat elke deel daarvan (blare, neut, blom en bas) gebruik word in produkte vanweë hul genesende en voedende elemente.
In Haïti word die moringablomme selfs gekook om ’n tee te maak, wat as ’n kuur teen verkoue dien.
Wat moringa-olie in die skoonheidswêreld onderskei, is dat dit oor meer anti-oksiderende krag beskik as enige ander kosmetiese olie. Dis ook ryk aan kalsium, vitamiene C en A, kalium, koper en yster.
Dis ’n stabiele sg. draer-olie, wat dit die perfekte verbindingsmiddel vir velsorgprodukte maak.
Parfuummakers is versot op hierdie olie se vermoë om die vlugtigste geur te absorbeer en te behou.

2. GOUE ILANG-ILANG
Dis danksy ilang-ilang dat die Comore as die “parfuum-eilande” bekend staan. Dié blom van die canangaboom geur hierdie kuslyn se seebries só dat dit eie is aan hierdie deel van Afrika.
Die ilang-ilang-olie, wat van die blom ontgin word, vorm deel van tot 29% van die Comore se jaarlikse uitvoere.

 

Suid-Afrika het meer plantspesies as die res van die wêreld saam! Maar selfs ons agter-agterkleinkinders sal nie eens genoeg tyd hê om al die skoonheidsvoordele van ons land se plantegroei te ontdek nie

 

Tydens die Victoriaanse era is ilang-ilang gebruik om die kopvel te masseer en haargroei te bevorder, terwyl die Chinese dit aangewend het om bloedsomloop te verbeter en die hart gesond te hou.
In Indonesië, waar die canangaboom ook wyd voorkom, word die  ilang-ilang-blom op die bed van pasgetroude paartjies gestrooi - die geur is glo seksueel stimulerend.
Die vlugtige ilang-ilang-olie word vandag kommersieel vir aromaterapie gebruik, omdat daar geglo word dit verlig hoë bloeddruk en stabiliseer velprobleme. Hierdie goudkleurige olie beloof ook om jou ’n emosionele hupstoot te gee - dit werk as ’n antidepressant, wat liggaam, siel en gees sal verkwik.
Ilang-ilang word ook algemeen in Oosterse en blomparfuums gebruik, omdat dit uitsonderlik goed met vrugte-, blom- en woudgeure meng.

3. STRALENDE GALAMBOTTER
Hulle is inheems in Afrika se savannas en groei net wild - die galambotterboom het ’n leeftyd van honderde jare, maar dra slegs een maal per jaar vrugte en galambotterneute.
Dis ’n eetbare botter en is al eeue lank ’n integrerende deel van die lewens van die mense van Sentraal- en Wes-Afrika, waar dit veral as huishoudelike kookolie gebruik word.
Afrika-vroue gebruik ook galambotter (shea butter) om hul vel te bevog, irritasie te voorkom en littekens te behandel.
Hierdie gelerige botter met sy neuterige geur is ryk aan proteïene, vitamiene, minerale, kalsium, yster en vetsure. Daarom dat galambotter vandag algemeen in die skoonheidswêreld gebruik word vir die instandhouding van ’n gesonde vel. Dit beskerm en bevog, en omdat botter smelt wanneer dit met jou vel in aanraking kom, is dit ’n perfekte masseerolie vir moeë of seer spiere.
Galambotter word ook in goeie opknappers gebruik om hare te bevog en gebreekte haarpunte te herstel. Dis ook goed vir ’n droë kopvel en beskerm jou hare teen die son, haardroërs en kleursel.
Omdat galambotter kan help om kollageen-produksie deur die vel te stimuleer, is dit ook doeltreffend om fyn lyntjies op die gesig te verminder.

4. MAROELABOOM, TOWERBOOM
Olifante en ape in Suider-Afrika vergryp hulle gereeld aan oorryp maroelavrugte wanneer dit op die grond val - met bedwelmende gevolge! Die mens was vinnig om hierdie neiging na te aap en likeur of mampoer daarvan te maak.
(Sommige gemeenskappe, soos die Ndebele in Zimbabwe, gebruik ’n mengsel van die wortels en blare van die maroelaboom om hulself teen bose geeste te beskerm.)
In die skoonheidsbedryf is hierdie boom om heelparty redes belangrik, en veral sy olie (wat in die neut van die maroelavrug gevind word) word hoog geag. Dis ryk aan oleïensuur - een van die beste versagmiddels bekend in dié bedryf.
Afrika-vroue gebruik al eeue lank maroela-olie teen rekmerke tydens swangerskap en dié geheim het vinnig onder produkontwikkelaars se aandag gekom. Hulle het gevind die olie help ook om die vel te versterk en is ryk aan anti-oksidante en vitamien E. Dis deesdae algemeen bekend daarvoor dat dit die horlosie terugdraai wanneer dit by jou vel kom.
Dan maak maroela-olie se hoë voedingswaarde en stabiele samestelling dit ook ’n ideale keuse vir kosmetiese produkte, en dis ’n gesogte bestanddeel in aromaterapie-formules.

5. ONSTERFLIKE AALWYN
Die gebruik van dié kanniedood strek so ver terug as 6 000 jaar toe vroeë Egiptiese beskawings die plant in steensketse uitgebeeld het. Die aalwyn staan bekend as die plant van onsterflikheid en is in antieke beskawings as ’n grafgeskenk aan die farao’s gegee. Dis ook hier, in noord-Afrika, waar die aalwyn sy oorsprong het.
Toe die Europeërs in die 10de eeu aan hierdie plant bekend gestel is, het hulle dadelik begin om dit as ’n bestanddeel in kruiemedisynes te gebruik. Hulle het gevind dat die aalwyn jou vel se verdedigingsmeganismes versterk en dit beskerm teen irritasies - wat dit die natuurlike keuse vir ’n sensitiewe vel maak.
Vir die Egiptiese koninginne Nefertiti en Cleopatra was dit egter nie nuus nie - hulle het dit eeue tevore reeds hoog aangeslaan as ’n skoonheidsbehandeling om die vel te bevog en te streel.
Die aalwyn staan ook as die wonderplant, natuurlike heler en brandplant bekend - lg. omdat dit gereeld gebruik word om brandwonde te behandel. Daar word geglo die jel van die aalwyn vorm ’n lagie oor ’n wond, wat die kanse op infeksie verminder.
Vandag is daar meer as 300 verskillende soorte aalwyne, waarvan Aloe vera die algemeenste in die skoonheidswêreld gebruik word.
Moet egter nie sommer enige aalwyn deel van jou skoonheidsroetine maak nie, want sekere spesies, soos Aloe venenosa, is giftig!

Bronne
• www.underthesun.co.za • www.southafrica.info • www.wikipedia.org
• www.aroma-essentialoilstherapy.com • www.traderscity.com