Vals wimpers is jou geheime wapen om jou oë prentjiemooi en treffend af te rond. Moenie glo dat dit ’n onnatuurlike en oordadige grimeervoorkoms skep nie, deesdae is daar fantastiese produkte wat natuurlik lyk en jou oë pragtig sal komplementeer.

Die SARIE-skoonheidspan het met Maha Morley-Kirk oor vals wimpers gesels. Maha is die stigter van Pinky Goat, ’n internasionale bekende vals wimper handelsmerk wat wêreldwyd te koop is.

Watter aspekte moet jy in ag neem wanneer jy kwaliteit vals wimpers wil koop?

Kyk of die vals wimpers met behulp van masjiene vervaardig word en of dit dalk eerder met die hand gemaak word. Kyk óók of dit weer gebruik kan word, ’n goeie paar vals wimpers moet jy ten minste 10 keer kan dra.

Die materiaal waarvan die vals wimpers gemaak word, is ook belangrik. Veganistiese wimpers is eerste prys. 

Hoe kies jy die regte vals wimpers wat by jou oogvorm pas?

Maak eerstens seker wat jou spesifieke oogvorm is, is dit amandelvormig, hooded of diepgesetel?

Enige wimperstyl sal by amandelvormige oë pas. Wimperstyle wat langer wimperhaartjies in die middel het, sal hooded oë (jy het dié oogvorm as jou ooglede nie mooi sigbaar is wanneer jou oë oop is nie) komplementeer.

Wimpers wat korter aan die binneste hoek en langer aan die buitenste hoek is, werk goed vir diepgesetelde oogvorme.

Watter tipe styl moet jy vir watter tipe geleentheid dra?

Vir ’n aandfunksie, kies vals wimpers wat ekstra lengte en volume skep. Vir ’n meer natuurlike voorkoms, kies vals wimpers wat pragtig krul en effense lengte gee. 

FOTO Instagram / Vogue Beauty

Hoe versorg jy vals wimpers sodat dit in ’n goeie toestand bly as jy dit weer wil dra?

  • Verwyder die vals wimpers versigtig van jou eie wimpers af.
  • Gebruik ’n wattestokkie met olievrye grimeerverwyderaar om die wimpers skoon te vee en van gom ontslae te raak.
  • Stoor die wimpers mooi in die houer waarin dit gekom het, sodat dit mooi in die gewensde vorm kan bly.

Belangrike moets en moenies:

  • Meet die vals wimpers teenoor jou eie wimpers en knip dit as dit te lank is.
  • Wend maskara aan jou eie wimpers voordat jy die vals wimpers aansit.
  • Moenie maskara aan die vals wimpers aanwend nie.
  • Gebruik ordentlike gom wat gou droog word en nie jou oë, vel of natuurlike wimpers sal irriteer en beskadig nie. Gom met byvoorbeeld kasterolie sal jou wimpers voed én jou wimpers nie beskadig nie.
  • Moenie seep en water gebruik om die vals wimpers skoon te maak nie. 

Probeer die produkte:

Pinky Goat Kanz Lashes (R150) By Clicks.

Sorbet Lash Lift Lashes Feather Light False Eyelashes (R60) 

Ardell Natural Lashes (R89) By Clicks.