Skoonheidshuise maak nie meer net vir jóú mooi nie. Hulle help sorg dat die wêreld ’n beter plek word –  vir ons almal.

SORG UIT DIE SEE

Céline Cousteau, klein-dogter van die bekende oseaan-ontdekker Jacques Cousteau, is ’n kampvegter vir omgewingsbewustheid, veral van die see. Sy is die internasionale koördi-neerder van die Ocean Futures Society – gestig deur haar pa, die filmmaker Jean-Michel Cousteau.

Céline was betrokke by die ontwikkeling van La Prairie se nuwe Advanced Marine Biology Day Cream SPF 20 (R1 850), wat gemaak word van mariene plante verwerk met moderne tegnologie.

“Dis ’n goeie voorbeeld van die verantwoordelike gebruik van die oseaan se ongelooflike hulpbronne, sonder om dié waardevolle ekosisteem te bedreig,” sê sy.

La  Prairie - sorg uit die see

* Vir elke potjie Advanced Marine Biology Day Cream wat La Prairie verkoop, skenk hulle geld aan die Ocean Futures Society.

GROEN ENERGIE

Clinique se trotsste prestasie is dat hulle die enigste luukse-skoonheidsmaatskappy is wat genoeg groen energie verskaf (ook aan ander maatskappye) om die gewone elektrisiteitverbruik by hul fasiliteite uit te balanseer.

Hul toewyding aan sonkrag het gelei tot die installering van die grootste sonkragstelsel in die VSA by hul fabriek in New Jersey.

Dis ’n uitdaging om by te hou met die energie-verbruik van dié skoonheidshuis se vinnige verkope: Elke 3,7 sekondes word ’n botteltjie Clinique Dramatically Different Moisturizing Lotion (R395) êrens in die wêreld verkoop. Hierdie vogroom is ook in Suid-Afrika ’n topverkoper.

Groen energie van Clinique

OLIES MET HART

Vir hul Aromatherapy Distillations-reeks is die vervaardiger gevra om te soek vir olies en botters wat ekologies verantwoordelik verkry is en/of van ontwikkelende lande kom, sê Sue Jonas, Crabtree & Evelyn se hoof van produkontwikkeling in die VSA.

Muru-muru-botter word byvoorbeeld in Brasilië geoes. In Crabtree & Evelyn Distillations Body & Massage Oil (R200) verkwik en versag dit jou vel.

Aan die begin van 2010 het Crabtree en Evelyn ook begin om kliënte ’n “groen fooi” te vra: Met elke inkopiesak wat gegee word, word kopers R1 gevra. Dit word aan Food and Trees for Africa oorbetaal. 

VIVA MOOI

Die skoonheidshuis M.A.C gee terug deur hul Viva Glam-projek: 100% van die verkoopprys van dié produkte gaan aan mense wat met MIV/vigs leef. Hierdie wêreldwye projek (dis reeds 500 000 Amerikaanse dollar sterk) skenk ook geld aan plaaslike projekte soos Noah’s Ark.

MAC Viva Glam van Cyndi Lauper

Viva Glam het pas hul twee nuutste gesigte aangekondig: Cyndi Lauper en Lady Gaga. Die twee popsterre kry elk hul eie lipstiffie-kleur: Viva Glam Cyndi – Light Coral Red en Viva Glam Gaga – Light Blue Pink (R145 elk).

M.A.C steun ook plaaslike projekte soos Rena La Lona, ’n kreatiewe sentrum in Soweto, wat op Wêreldvigsdag R650 000 gekry het.

HELP VROUE VOORUIT

'n Beursprogram wat vroue-wetenskaplikes in Afrika help om hul doktorsgrade te voltooi word plaaslik deur L’Oréal ondersteun.

Innoverende produkte soos L’Oréal Color Riche Anti Ageing Serum (R124,95) is die resultaat van L’Oréal se toewyding aan navorsing. Hierdie lipstiffie bevat ’n teenverouderingserum wat jou lippe se definisie verbeter en fyn lyntjies om jou mond vul.

L’Oréal is ook een van die stigterslede van die Look Good Feel Better-veldtog (Clarins en Estée Lauder ondersteun dit ook) wat hulp verleen aan vroue wat kankerbehandeling ondergaan of wat besig is om van kanker te herstel.

Hierdie program bied gratis werksessies aan en ondersteun vroue met die newe-effekte wat behandeling soos chemoterapie op hul voorkoms kan hê. Só herstel dit hul selfvertroue.

BOU EN BESKERM

Al die natuurlike bestanddele wat in The Body Shop se produkte gebruik word, word volhoubaar verkry. Hierdie skoonheidshuis het 28 gemeenskap-verskaffers, ’n inisiatief waarmee hulle reeds sedert 1985 besig is. Dié projek koop hoë-gehalte natuurlike bestanddele teen ’n billike prys om te verseker dat dit ’n positiewe impak op die verskaffers se gemeenskappe maak.

In Ghana het The Body Shop byvoorbeeld vir Kuapa Kokoo – ’n verskaffer van kakaobotter – 7 skole gebou en boorgate geboor vir skoon drinkwater. Kakaobotter is ’n kernbestanddeel in vele skoonheidsprodukte omdat dit teen ons liggaamstemperatuur smelt. The Body Shop Shea Body Butter (R120) bevat kakaobotter en galambotter (shea butter). Lg. word ook in Ghana geoes.

The Body Shop-bestanddele is volhoubaar verkry

PLANT 'N BOOM

'n Webwerf (www.maketheworldaprettierplace.com) om boomplant aan te moedig is een van Elizabeth Arden se bydraes. Daar deel jy jou idees oor wat ons elke dag kan doen om die wêreld mooier te maak. Vir elke persoon wat kommentaar lewer, plant Elizabeth Arden ’n boom deur Trees for the Future. “Skoonheid is nie net uiterlik nie, maar ook ’n weerspieëling van die gevoel wat ons kry wanneer ons help om terug te gee aan die wêreld,” sê die webwerf. Dis geïnspireer deur Elizabeth Arden se vrolike geur Pretty (R295 vir 30 ml EDP).

ONTWIKKEL

Alle Nimue-verpakkings is herwinbaar en dié skoonheidshuis gebruik ook ál meer Ecocert-bestanddele in hul produkte. (Ecocert is ’n Franse liggaam wat bestanddele as organies klassifiseer.)

Die sleutel-bestanddeel in Nimue Body Lotion (R205) is Kigelia Africana (met ’n anti-inflammatoriese en verfermingseffek op die vel) en dit word verskaf deur Afriplex en PhytoTrade Africa – liggame wat die ekonomiese potensiaal van Afrika se natuurlike hulpbronne ontwikkel. Hulle voorsien internasionale kliënte met innoverende, natuurlike produkte uit Afrika wat verkry word van volhoubare bronne.

Nimue verpakkings is herwinbaar

NATUURLIK

Die bottel vir Issey Miyake se nuwe L’Eau d’Issey Wood Flower (R830 vir 75 ml EDT) word gemaak uit beukehout wat ontgin is in woude wat 100% volhoubaar is. Volhoubare bosbou neem biodiversiteit, produktiwiteit, herplanting, en die beskerming van dier- en plantspesies in ag en versteur nie ander ekosisteme nie.

Issey Miyake Fleur de Bois Wood Flower

GEE MÉÉR

Die Amerikaanse grimeerkenner Bobbi Brown glo hoe meer jy gee, hoe meer kry jy terug. ’n Organisasie wat na aan haar hart is, is Dress for Success.

Hierdie groep in New York gee aan minder-bevoorregte vroue uitrustings en loopbaan-raad om ’n sukses van werkonderhoude te maak. Bobbi help ook dié vroue om die regte grimeervoorkoms te skep om professioneel te lyk in die werkplek. “Dress for Success gee vroue die gereedskap en kennis om te lyk soos die mens wat hulle graag wil word,” sê sy. Bobbi Brown Skin Foundation SPF15 (R340) skep ’n gladde gelaat wat jou ekstra selfvertroue gee.

Bobbi Brown SKin Foundation SPF15

VEELSYDIGE ROSE

In Afganistan word boere deur Dr. Hauschka gehelp om rose te kweek waarvan die roosolie vir vele skoonheidsgebruike aangewend word. Uit die 10 000 verskillende roos-variëteite is die Damassener-roos die veelsydigste. Dit word vir medisinale doeleindes en in parfuums gebruik. Dié roosolie in Dr. Hauschka Rose Day Cream Light (R342) sorg dat jou vel glad en ferm bly. Die opbrengs van Dr. Hauschka-grimeersakkies word aan dié roos-projek geskenk.

Roosolie uit roosblare word in skoonheid gebruikDr. Hauschka geïnspireer deur rose

DROOM VIR JOUSELF & ANDER

Geïnspireer deur Tommy Hilfiger se parfuum Dreaming (R495 vir 50 ml EDP) het die span van SA Aramis and Designer Fragrances ’n veldtog begin om terug te gee aan plaaslike gemeenskappe en drome te bewaarheid.

In 2007 het hulle met behulp van donasies ’n huis geskenk aan ’n vrou wie se seun dood is toe haar houthuis afgebrand het. In 2008 het hulle saam met Carte Blanche bygedra tot die aankoop van toerusting vir die pediatriese afdeling van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto.

Verlede jaar het hierdie span die S.O.S. Children’s Village Home in Ennerdale, Johannesburg, aangeneem. Dié tehuis versorg hawelose kinders. Deel van hul veldtog “Dreaming the South African Dream” was onder meer om bewustheid te skep in die Menlyn-inkopiesentrum in Pretoria. Mense is gevra om hul drome vir ons land neer te skryf en dit is op ’n kaart van Suid-Afrika geplak. Hierdie drome is later bymekaargemaak en gaan in ’n koffietafelboek gepubliseer word om aan die regering te oorhandig.

Dreaming van Tommy Hilfiger

ETIES EERSTE

In 1985 het Clarins besef hulle kan nie aanhou om laekoste-produkte van onderontwikkelde lande te koop nie – veral nie as hulle die natuur wil ontwikkel en beskerm nie. Hulle het toe regverdige handel en verantwoordelike etiese beginsels geïmplementeer om seker te maak dat slegs omgewingsvriendelike prosedures gevolg word.

Clarins bied direkte ondersteuning aan plaaslike gemeenskappe (soos met die bou van skole) en verbeter lewensomstandighede deur byvoorbeeld drinkwater te voorsien.
In Madagaskar, waar bestanddele soos katafray-bas ontgin word, word die plantlewe gereeld ontleed, en oeste ondersteun meer as 2 500 families. Danksy regverdige handel word 5% van alle inkomste weer in plaaslike gemeenskapsprojekte belê.

Eties eerste met Clarins

Clarins HydraQuench Intensive Serum Bi-Phase (R535) bevat katafray, wat jou vel vog gee selfs in die droogste klimaatsomstandighede.

INHEEMS & VRIENDELIK

Op eie bodem werk die plaaslike handelsnaam Charlotte Rhys sag met die natuur. Dié maatskappy het nie net sterk groen-beginsels oor volhoubaarheid nie, maar is ook omgewingsvriendelik én is goedgekeur deur Beauty Without Cruelty en die Vegan Society of SA. Aangesien die produkte plaaslik, in die Wes-Kaap, vervaardig word, word SA-kopers se koolstof-voetspoor minimaal vergroot.

Inheemse plante vir hul produkte word volhoubaar geoes om biodiversiteit te beskerm. Die krag van die natuur – emosioneel, esteties en biologies – vorm die kern van hierdie handelsnaam.

Charlotte Rhys: plaaslike handelsnaam met &aposn gewete

Charlotte Rhys Body Lotion (R89) bevat bestanddele eie aan Afrika, soos kremetartsaad-olie, om jou vel jonk en soepel te hou.    

* ONTHOU OOK OM JOU GRATIS MAANDKALENDERS AF TE LAAI MET 'N DOEN-DING ELKE MAAND.