Die aktrise, TV-aanbieder en sanger Nadia Beukes straal en met goeie rede! Nadia het begin van die maand op sosiale media gedeel dat sy, manlief David de Villiers en klein Davey 'n besoek van die ooievaar binnekort verwag.

FOTO Instagram / Nadia Beukes-De Villiers

Sy is 6 maande swanger en verwag haar tweede seuntjie. “Ek sien daarna uit om ons nuwe seuntjie te ontmoet en weer te begin woeker met my werk. Ek is alewig besig om balans na te streef en hopelik sal ek uiteindelik 'n gesonde balans tussen vrou-wees, ma-wees, 'n suksesvolle loopbaan en sommer net ek-wees kan bereik.” 

FOTO Willem Botha

Op Nadia se Instagram-blad is sy nie skaam om oor haar eie velprobleme te praat nie. Sy deel graag raad oor hoe sy al veluitdagings soos volwasse aknee stelselmatig oorwin het.

Velsorg en swangerskap:

“Dit is nooit te vroeg, of te laat, om in jou vel te belê nie,” benadruk Nadia. En hieroor kan sy goed getuig. “Ek het al geweldig met volwasse aknee gesukkel wat veral 'n uitdaging in die televisiebedryf is waar jy gereeld baie grimering moet dra en goed op kamera moet lyk.” 

FOTO Instagram / Nadia Beukes-De Viliiers

Ná Nadia se eerste swangerskap het sy boonop met pigmentasie gesukkel. Sy het velsorg wat spesifiek daarop fokus om pigmentasievlekke te behandel en professionele behandelings soos Dermapen en mikrodermabrasie ('n afskilferingsbehandeling) ingespan. “Ek was aanvanklik skrikkerig om Dermapen te probeer. Ek was bang dit sou seer wees, maar dit was glad nie seer nie. Die volgende dag kon ek reeds 'n verskil sien. Dis ook fantasties vir die behandeling van fyn lyntjies.”

FOTO Sagely Photography

As gevolg van die pigmentasie-behandelings is sy nou baie meer vatbaar vir sonskade. Nadia gebruik 'n goeie sonskerm en probeer om uit die son te bly of 'n hoed te dra.

En nou met haar tweede swangerskap? “My vel voel baie droog en daarvoor gebruik ek rome wat ekstra vog in my vel insit en ek probeer ook gereeld vir behandelings gaan om seker te maak dat die vog effektief deur my vel geabsorbeer word.” 

FOTO Sagely Photography

Nadia se raad aan ander ma's:

“Onthou dat jou liggaam, jou hormone en jou vel verander as jy swanger is - pas jou velsorgroetine en produkte aan by dié veranderinge. Probeer genoeg slaap, al raak dit al hoe meer ongemaklik soos wat jou magie groei! Maak dit 'n prioriteit om 'n goeie sonblok daagliks aan te wend.” 

Luister na jou lyf en vertrou jou instink, sê sy. “Elkeen van ons is uniek en daarom moet ons doen wat vir ons werk en ons goed laat voel. Om gemaklik te wees in jou eie vel is 'n wonderlike gevoel!”

FOTO Willem Botha


Nadia se moet-hê produkte

Sy glo dat elke vrou 'n goeie sonskerm, reiniger en vogroom moet hê.

Nadia hou van:

Lamelle se Luminesce-reeks. Dit is spesifiek vir die behandeling van pigmentasie geformuleer. 

Lamelle Luminesce Brightening Cleanse (R240)
Lamelle Luminesce Brighter Day (R840)
Lamelle Lamelle Luminesce Evening Glow (R995)