’n Omgewingsvriendelike of groen leefstyl raak al hoe gewilder. Selfs in die skoonheidswêreld word dit ál makliker vir ons om omgewingsbewuste keuses te maak, danksy ’n groter verskeidenheid groen produkte wat wyer beskikbaar is. Maar wanneer jy voor ’n rak vol produkte met etikette soos 100% natural, organic, cruelty free, chemical free en vegan staan, weet jy nie altyd wat dié woorde nou eintlik beteken nie …

"Soos wat die vraag na natuurlike en organiese produkte groter word, begin skoonheidshuise al hoe meer aandag gee aan die bestanddele wat in hul produkte gebruik word," sê Robyn Smith, stigter van die organiese webwinkel Faithful to Nature. "Dit word ook belangriker vir skoonheidshuise om deursigtig te wees teenoor verbruikers oor watter bestanddele en vervaardigingsmetodes hulle gebruik."

As jy weet wat die verskillende etikette op natuurlike produkte beteken, kan jy beter keuses maak. Hiér verduidelik Robyn die belangrikste etikette waarvan jy moet weet:

1. Etiket: Natuurlik

Wat dit beteken: Skoonheidsprodukte wat as natuurlik beskryf word, bevat hoofsaaklik bestanddele wat in die natuur voorkom, sê Robyn. Dit bevat dus min of geen chemies vervaardigde of sintetiese bestanddele nie.

Wat jy moet weet: Die gebruik van die woord natural op die verpakking van skoonheidsprodukte word nog geensins gereguleer nie. Dit beteken dat sommige produkte met dié etiket bitter min natuurlike bestanddele kan bevat en hoofsaaklik uit sintetiese stowwe bestaan. Kyk daarom noukeurig na die bestanddelelys van produkte om te sien hoeveel van die bestanddele werklik natuurlik is.

Wenk: Bestanddele word gelys in volgorde van watter die grootste hoeveelheid van die formule uitmaak tot watter die minste is. Wees op die uitkyk vir produkte met chemiese of sintetiese stowwe heel onderaan die bestanddelelys.

Totally toned: ingredients like limes and rosemary help cleanse and tone without being too rough on the skin #herbalism #oceansalt

A photo posted by Lush Cosmetics North America (@lushcosmetics) on

 

2. Etiket: Gesertifiseerd organies

Wat dit beteken: ’n Organiese etiket op skoonheidsprodukte verwys hoofsaaklik na die oorsprong van die produk se bestanddele. Skoonheidsprodukte wat as organies gesertifiseer is, bevat bestanddele wat sonder chemiese plaagdoders of kunsmis verbou is. Die bestanddele is ook nie geneties gemanipuleer nie.

Wat jy moet weet: Die meeste etikette sal aandui wanneer net sekere bestanddele in die produk organies gesertifiseer is, of wanneer al die bestanddele (en dus die produk as geheel) so gesertifiseer is, sê Robyn.

3. Etiket: Veganisties

Wat dit beteken: Veganistiese skoonheidsprodukte bevat geen bestanddele wat van diere of die neweprodukte van diere afkomstig is nie. Dié bestanddele sluit in gelatien, heuning, byewas, melksuur en lanolien (olie wat uit skaapwol verkry word). 

Wat jy moet weet: Veganistiese skoonheidsprodukte kan wel sintetiese weergawes van dierebestanddele bevat.

4. Etiket: Sonder wreedheid (cruelty free)

Wat dit beteken: Die formules en bestanddele van skoonheidsprodukte met ’n “sonder wreedheid”-etiket is geensins op diere getoets nie.

Wat jy moet weet: Die produkte kan steeds sintetiese weergawes van dierebestanddele of diere-neweprodukte bevat. 

Probeer dié natuurlike handelsmerke:

Lees nou

Kry die mooiste skoonheidskas met dié 6 idees

5 haarstyle wat net 7 minute sal neem