Die skoonheidswêreld bestaan uit ’n magdom produkte, behandelings, roetines, tegnieke en wenke. Soms weet jy nie watter van dié geskik of selfs broodnodig vir jóú vel is nie. Sonette Donker, kommunikasiebestuurder van Dermalogica, gee waardevolle wenke oor wat jy van jou vel se natuurlike verouderingsproses kan verwag, asook hoe om in elke dekade van jou lewe jou vel optimaal te versorg. Hiér is wenke vir jou 20’s en 30’s:

Jou vel tydens jou 20’s

In dié stadium van jou lewe vernuwe jou vel se selle teen ’n vinnige tempo, die bloedsirkulasie is goed en jou kollageen-vervaardigingsvermoë is in topkondisie. Fokus in jou 20’s daarop om voorkomend op te tree.

Wat om te verwag:

  • Sonskade wat jy vroeër in jou lewe opgedoen het, kan jou veltekstuur dof en onegalig laat lyk.
  • Fyn lyntjies kan voorkom weens dehidrasie.
  • Ligte vlekkies en pigmentasie kan voorkom.
  • ’n Veluitslag kan voorkom.

Wat het jou vel nodig?

  • Volg ’n basiese velsorgroetine wat by jou veltipe en behoeftes pas, soos om daagliks in die oggend en aand 'n reiniger, 'n vogroom en, indien nodig, 'n verfrisser te gebruik.
  • Wend daagliks ’n sonskerm met ’n SBF van minstens 30 aan.
  • Wend tydens jou velsorgroetine ook ’n vogroom aan jou nek aan – jy sal in jou 40’s dankbaar wees.

Behandel jou vel so:

’n Gesigbehandeling (facial) elke nou en dan sal jou vel se bloedsirkulasie verbeter en help dat velsorgprodukte beter absorbeer word.

Lees hiér meer oor jou basiese velsorgroetine

Probeer dié produkte:

1. Garnier Pure Active Daily Energizing Gel Wash (R75)

2. Nivea Daily Essentials Rich Moisturising Day Cream SPF 15 (R60)

3. Neutrogena Visibly Clear Spot Treatment Moisturiser (R76)

Jou vel tydens jou 30’s

Jou vel se bloedsirkulasie en vermoë om nuwe selle te vervaardig begin in dié stadium van jou lewe traer raak. Tekens van sonskade wat jy vroeër in jou lewe opgedoen het, soos fyn lyntjies en donker vlekke, begin ook nou duideliker wys. Fokus daarop om verdere skade te voorkom en vorige skade te herstel.

Wat om te verwag:

  • Jou vel se elastisiteit en kollageen-vervaardiginsvermoë neem af en dit laat  jou vel minder plomp lyk.
  • Plooie en fyn lyntjies begin op jou voorkop en om jou oë verskyn.
  • Donker vlekkies, ’n onegalige veltekstuur en fyn rooi aartjies kan begin verskyn.

Wat het jou vel nodig?

  • Jou velsorgroetine moet nou serums, maskers en gereelde afskilfering insluit.
  • Maak seker jy reinig jou vel deeglik, maar steeds sagkens, sodat die velsorgprodukte wat jy gebruik beter absorbeer word en meer doeltreffend werk.
  • Gebruik ligte masseerbewegings wanneer jy jou vel reinig om bloedsirkulasie te verbeter.
  • Beskerm jou vel teen verdere sonskade deur daagliks ’n vogroom en/of sonskerm met ’n hoë SBF te gebruik.

Behandel jou vel so:

  • Gaan gereeld vir ’n gesigsbehandeling (facial) om jou vel te reinig en te hidreer.

Die goeie ekstras by jou velsorgroetines - lees meer!

Probeer dié produkte:

5. Bioderma Sensibio H2O Cleanser (R190)

6. Clarins Gentle Refiner Exfoliating Cream (R355)

7. Kiehl’s Açai Damage-Correcting Moisturizer (R465)

8. Clinique Even Better Dark Spot Defense SPF 45 (R455)

Bykomende bron: The Makeup Book deur Leigh Toselli

Kombineer jou basiese velsorgroetines en ekstras só