Die aktrise Rosario Dawson (Sin City) het dié neiging begin toe sy verlede jaar ’n strook hare aan die een kant van haar kop afgeskeer het (foto bo). Kort op haar hakke was Miley Cyrus (foto heel bo) en Rihanna. Nou het Amanda Bynes (She’s the Man), Halle Berry (Cloud Atlas) en die sangeres Pink ook hul hare geskeer.

Bo: Rihanna vervolmaak die geskeerde voorkoms - ongeag of haar hare lank of kort is! Met die lang hare kry dit 'n meer elegante styl. Is jy gereed vir haar konserte in Suid-Afrika later vanjaar?

Pink het die hare aan die een kant van haar kop afgeskeer en pienk en groen strepies aan die ander kant laat insit, terwyl die swanger Halle Berry se nuwe haarstyl meer soos Miley se hare gesny is, net ’n bietjie meer elegant.

Bo: Pink se gewaagde blonde kapsel pas by haar rockster-voorkoms, terwyl Halle Berry (links) se hare elegant maar steeds in die mode is. Klik hier vir meer oor Halle se swangerskap.

Matthew Mansoor, haarstilis en ambassadeur van TRESemmé, sê Rihanna en Miley dra hierdie styl die beste. Hy waarsku dat dié rebelse voorkoms nie by almal se persoonlikheid, leefstyl en selfs klerekas gaan pas nie. As jou persoonlikheid en klerekas funky en edgy is, sal dié voorkoms by jou kan werk.

As jy wel dapper genoeg is om hierdie neiging te volg, is dit belangrik om die volgende te onthou, sê Matthew:

  • Enige haarstyl moet saam met die regte klere gedra word – maak seker jou klerekas pas by die haarstyl voordat jy jou hare skeer!
  • Is die haarstyl nie professioneel genoeg vir jou beroep nie? Sny dit bloot so dat jy die geskeerde deel kan wegsteek met langer hare.
  • Die haarstyl kom tot sy reg as jy die geskeerde hare 'n ander kleur as die res van jou kop kleur. Ligte bruin saam met donker bruin, of swart saam met blond, beklemtoon die verskillende lengtes.