Jou gunsteling-skinderblad in ’n bottel!

Tieners het in 2006 verlief geraak op bekendes soos Blake Lively, Leighton Meester, Ed Westwick en Chace Crawford wat hul rykmanslewens in New York vir die skinder-webblad Gossip Girl probeer wegsteek het. Die reeks het verlede jaar aan die einde van die sesde seisoen klaargemaak, maar jy kan steeds in die titel belê met een van twee geure.

Gossip Girl Spotted (R445 vir 100 ml EDT) is ’n sitrus- en vrugtegeur met note van wit blomme. Lemmetjie, bergamot, lelies, jasmyn, bessies, swartpeper, koljander, kaneel en vanielje word gekombineer met houtnote om dié geur besonders te maak.

Gossip Girl XOXO (R445 vir 100 ml EDT) is weer ’n Oosterse blommegeur met note soos bloubessies, roos, dallelie, witsjokolade, vanielje, muskus, amber en patsjoelie.

Ruik soos agent Jack Bauer

In 2010 het ons gedink die TV-reeks 24 met Kiefer Sutherland as agent Jack Bauer het finaal klaar gemaak, maar vroeër vanjaar het Fox se TV-vervaardigers aangekondig dat Jack Bauer in 2014 gaan terugkom kassie toe – 24: Live Another Day gaan ’n reeks met 12 episodes wees. Nou kan die man in jou lewe sommer ook agent Bauer wees met vier verskillende geure van 24!

Note soos koljander, mandarynse lemoen, bergamot, suurlemoen, sederhout, vanielje en houte maak 24 Classic (R645 vir 100 ml EDT) ’n vars, manlike geur terwyl 24 Gold (R695 vir 100 ml EDT) ’n Oosterse geur vol ryk note soos jasmyn, sandelhout, amber en vanielje is. Die bonus? Dié geur is geskik vir mans én vroue!

24 Platinum (R645 vir 100 ml EDT) is ’n blommegeur met sterk houtnote sowel as note soos vanielje en muskus, en 24 Go Dark (R645 vir 100 ml EDT) is ’n vars, Oosterse geur met sitrus- en vrugtenote, speserye, hout, leer, muskus en vanielje.

Watter ander TV-reeks sal jý in ’n bottel parfuum wil hê?

*Die geure is beskikbaar by uitsoektakke van Edgars