Speel met kleur
• Word kreatief met die nuutste palet van geel, pers en oranje. Vervang jou aksentkleur met geel oogskadu en wend dit aan op die ooglid en in die vou van jou oog. Probeer Clarins Single Eye Colour Long-Lasting in Sunny Yellow. As jy meer wil waag, wend geel oor die hele oogdeel aan en rond af deur ’n tikkie oranje oogskadu uitwaarts in die vou van die oog aan te wend (sien modelfoto regs). Voltooi dié voorkoms met ’n ligte pers onder die onderste wimpers. Dit verhelder jou oogkleur.

Sonbruin natuurlik
• Skilfer jou vel af en bevog goed voor jy sonbruinmiddel aanwend. Wag ’n halfuur sodat die vogroom kans het om in te trek. Dít verhinder kollerige of streperige verbruiner. Probeer Clarins Delicious Self Tanning Cream met bevogtigende kakao.
• Wend meer as een laag aan - te min sal jou vel geel laat vertoon.
• As jy vinnig jou lyf goud wil toor en dit voor slaaptyd afwas, gebruik ’n poeiersproei. Hou dit 20 cm van jou lyf en staan in goeie lig terwyl jy dit aanspuit.
• En vir die gesig? Sproei die produk in jou handpalms en druk saggies teen jou gesig. Probeer Dior Bronze Sun Powder Spray.
• Vir ’n natuurlike gloed op die gesig, wend aan op dié dele wat gewoonlik eerste aan die son blootgestel word: die wange, neus en voorkop.

Stimuleer só
• ’n Ligte tik-aksie van die middel- en wysvinger op jou gesig dwing bloed na die oppervlak en sorg dat ’n produk se bestanddele vinniger in die bloedstroom opgeneem word. Clarins noem dit die Youth-Stimulating Method. Wend Clarins Bright Plus HP Firming Brightening Serum só aan om van donker vlekkies ontslae te raak.
• ’n Rollertjie oor die vel stimuleer gesigspiere en laat dit saamtrek en ferm voorkom. Dié tegnologie is ingespan in Garnier Ultra Lift Pro-X Lifting Anti-Wrinkle Roll-On. Dit stel Pro-Xylane, ’n gepatenteerde molekule van beukeboom-ekstrak, vry wat kollageenproduksie verhoog.

Omlyn oë reg
• Verruil eenkleur-oogomlyners vir kleure met dimensie. Die rokerige oog en ’n korter potloodstreep as by die 40’s-voorkoms is groot nuus. Probeer Elizabeth Arden Colour Intrigue Gel Eyeliner. Dié vloeibare oogomlyner is beskikbaar in twee kleure: Bronze Pearl en Black Pearl. Dit gly maklik aan en het ook ‘n aanwendingkwassie.

Verbloem Slim
• Wend verbloemer voor én ná onderlaag aan. Probeer La Prairie se Light Fantastic Cellular Concealing Brightening Eye Treatment. Dit steek donker kringe weg met bestanddele wat jou oë verhelder. Arnika (valkruid) en Romeinse kamille-ekstrak verlig pofferigheid.

Rond perfek af
• Wend lipstiffie met ’n lipkwassie aan vir beter definisie. Só kan jy ook ’n bietjie kul met die buitelyne. Probeer Environ se lipkwassie vir die aanwending van Environ Lip Colour.
• Wend ‘n poeier-onderlaag met ’n grimeerkwas van sintetiese hare én suiwer bokhaar aan. Die sagter, langer bokhare en die harder, korter sintetiese hare vang lug by die punt vas en skep só daardie sagter (airbrushed) voorkoms. Probeer M.A.C se Stipling Face Brush #187.
• Wend oliebevattende onderlaag eerder met jou vingers aan. Die hitte van jou hande sal die onderlaag laat smelt en verseker só ’n meer egalige bedekking. Probeer Elizabeth Arden Intervene Foundation. Dié “slim” onderlaag beveg fyn lyntjies terwyl dit bedek.

Wimpers met volume
• Kan jy glo! ’n Revolusionêre maskara met ’n borseltjie wat teen 7 000 omwentelinge per minuut sigsag-bewegings maak om elke wimper egalig te bedek, vorm, verleng én dikker te laat lyk. Dis Lancôme se nuwe Oscillation Vibrating Power Mascara wat vanaf Februarie 2009 beskikbaar sal wees. Jean-Louis Guéret, ontwerper van Lancôme se maskara-borsels, het dié borsel ontwerp nadat hy gesien het hoe professionele grimeerkunstenaars maskara in sigsag-bewegings aanwend.

Glanslippe

• Kies lipglans wat ook sonbeskerming bied. • “’n SBF-faktor beskerm nie net jou lippe nie, maar bied ook bevogtiging wat help dat die glans langer op jou lippe bly,” sê Bridgit Shipalana, kommunikasie-bestuurder by Clinique. Probeer Clinique Long Last Glosswear SPF 15.

Die aanwendingstokkie is só ontwerp dat jy moeiteloos met perfekte glanslippe kan spog.

 

Egalig met minerale
• Wend mineraalpoeier met ’n borsel in sirkelbewegings op jou wange aan vir ’n egalige effek. Die meeste poeiers het ’n ingeboude borseltjie.
• Druk dan die borsel oor die res van jou gesig en herhaal tot jy die dekking kry wat jy verlang.
• Jy kan jou onderlaag met mineraalpoeier vervang. Probeer Revlon se ColorStay Mineral Foundation, ’n ligte, waterbestande mineraalpoeier wat ure lank aanbly, asook L’Oréal True Match Minerals.

Een produk, meer as een effek
• Koop slim en kies ’n veelsydige eenstop-produk vir oë. Probeer Givenchy Accessor’Eyes Powder & Cream Eyeshadow Quartet in Black Denim. Dis ’n oogomlynstel met vier oogskadu’s in een. Die drie aanwending-sponsies maak verskillende effekte moontlik. Bedags Wend die perskekleur oor jou hele ooglid aan en gebruik ’n dun, puntige sponsie om ’n strepie met die swart teenaan jou wimpers te trek. Dit vervang jou oogomlyner. Saans : Gebruik die silwer as ’n aksent en speel met die ander kleure. Wend die romerige swart oogskadu onder die poeierkleure aan om dit te verhelder.

Skep ’n somer-blos
• Kies ’n blosser met goue pigmente vir ’n moderne, glimmende voorkoms. Vir ’n natuurlike blos, wend dit op die appel van die wange en op die brug van die neus aan. Probeer Chanel Blush Duo Tweed Effect in Tweed Pink.

Goud-glinster vir oë

Warmste grimeernuus! Goue oogskakerings laat jou oë groter lyk en verhelder veral groen en bruin oë. Begin eksperimenteer met goue vloeibare omlyner of ’n oogpotlood. Wend dit net bo jou wimpers aan of in die buitenste hoeke van jou oë. Probeer Clinique Shimmering Tones Powder Quad.

Clinique Shimmering Tones Powder Quad.

Dit vlei alle velkleure en gee perfekte, subtiele glans op oë én wangbene.

 

Dra dit nes jy wil!
“Every woman wears it her way.” Dis die boodskap oor Estée Lauder se nuwe parfuum, Sensuous. Daarom is vier modelle uit verskillende ouderdomsgroepe die gesigte van dié geur - modelle Hilary Rhoda en Carolyn Murphy, en aktrises Gwyneth Paltrow en Elizabeth Hurley. Dis ook Lauder se eerste houtagtige ambergeurskepping. “Houtgeure het altyd te manlik in vroue-parfuums geruik, maar in Sensuous ruik dit kenmerkend vroulik,” sê Karyn Khoury, Estée Lauder se neus. Dis ’n geur wat op elke vrou subtiel anders ruik. Dra dit in die dag of in die aand, en spuit dit in jou hare of in die waai van jou arms en bene. Dra dit nes jý wil!