Grimeerkenners kan nie uitgepraat raak oor hoe belangrik goedversorgde wenkbroue is nie. Dit raam jou gesig en rond jou voorkoms af. Voller wenkbroue wat natuurlik lyk is waarna jy nou moet streef. Verby is die dae van wenkbroue wat in ’n dun strepie oor jou gesig loop.

Maar hoe gemaak as jy jare gelede jou wenkbroue te yl gepluk het en dit nooit weer ordentlik teruggegroei het nie, of jy eenvoudig nie geseën is met welige wenkbroue nie? Ja, jy kan dit elke maand by ’n salon laat kleur of dit daagliks met ’n wenkbrou-potlood inkleur. Maar hoekom nie die nuutste trend beproef nie?

Microblading (ook genoem micro-stroking), ’n tegniek wat tatoeëerkuns inspan om jou wenkbroue voller te laat lyk, het reeds ’n groot aanhang internasionaal. Die goeie nuus is dat dit ook in SA beskikbaar is. Microblading val in die kategorie van semi-permanente grimering en die kleur vervaag heeltemal oor tyd.

Droom jy van vol wenkbroue soos die aktrise Lily Collins s'n? Lees verder vir die oplossing!

Lazy hazy Sunday...

A post shared by Lily Collins (@lilyjcollins) on

Hoe werk dit?

’n Opgeleide terapeut gebruik ’n spesiale pen met fyn naaldjies om mikro-snytjies in die epidermis (die boonste deel) van jou vel te maak, waarna pigment in die vel geplaas word, sê Samantha Divaris, ’n wenkbrou-spesialis van The Brow Studio in Johannesburg. Dié fyn lyntjies lyk net soos haartjies en die eindresultaat is natuurlik en subtiel. Omdat die pigment net in die epidermis geplaas word, vervaag dit oor tyd soos wat jou vel natuurlik afskilfer. Na gelang van hoe vinnig jou vel se afskilferingstempo is, kan die eindresultaat een tot vier jaar hou (hoe jonger jy is, hoe vinniger is die afskilferingstempo).

Wat kan jy verwag?

Die meeste mense moet vir twee afsprake gaan. In uitsonderlike gevalle is meer afsprake nodig, sê Samantha. Die eerste afspraak duur sowat ’n uur en ’n half, waartydens die terapeut bepaal hoeveel lyntjies om te teken en hoe om jou wenkbroue te vorm sodat dit natuurlik en simmetries lyk. Die microblading self duur sowat 20 – 30 minute. Die kleur van die pigment word aangepas om by jou wenkbroue se skakering te pas. ’n Verdowingsroom word eers aangewend sodat die behandeling nie te pynvol is nie.

Moenie skrik nie!

Baie vroue skrik as hulle hul wenkbroue die volgende dag sien. Omdat die mikro-snytjies baie fyn rofies begin vorm, lyk jou wenkbroue heelwat donkerder (moenie bekommerd wees nie, die rofies is nie erg opsigtelik nie). Maar ’n week of wat later, sodra die rofies afgeval het, lyk dit mooi, sê Samantha.

Nasorg

Die nasorg is baie belangrik. Vir vyf tot sewe dae ná jou behandeling kan jou wenkbroue glad nie nat word nie, want dit kan die pigment vervaag. Moet ook nie die rofies wat gevorm het afkrap nie, want daarmee saam gaan jy van die kleur verwyder. Sodra die snytjies heeltemal genees het (sowat vier tot ses weke later), moet jy vir ’n opvolgafspraak gaan sodat die terapeut ekstra lyntjies kan trek daar waar dit nodig is.

As jy nog nie oortuig is nie - kyk hoe natuurlik lyk die wenkbroue van dié kliënte van The Brow Studio nadat hulle ’n microblading-behandeling ontvang het.

Is dit vir almal?

Microblading is geskik vir die meeste mense, maar as jy ’n baie olierige vel het, kan die lyntjies effens dof (blurry) wees, sê Samantha. Microblading is veral ’n goeie oplossing vir mense wat hul wenkbroue weens chemoterapie of alopesie (’n outo-imuunsiekte wat dramatiese haarverlies veroorsaak) verloor het.

Om te weet

As jy wil hê jou nuwe wenkbroue moet langer hou, wees versigtig vir behandelings en produkte wat jou vel afskilfer, soos chemiese afskilferingbehandelings (peels), produkte met bestanddele soos retinol, glikoliese-, melk- of salisielsuur en gesigskropmiddels. Vra altyd die terapeut vir vóór- en ná-foto’s van die kliënte vir wie sy/hy al microblading gedoen het voordat jy die behandeling laat doen.

En die prys?

By The Brow Studio: R1 800 vir die eerste afspraak en R900 vir die opvolgafspraak.

@_thebrowstudio#microblading#lovemybrows ????

A post shared by Schalody v.d Westhuizen (@schalody) on