TREND: ELFIE-HARE

Die prettige elfie-styl wat in die nek kortgeknip word, is nou een van die grootste trends. In die jare
sestig was dit dié styl danksy die supermodel Twiggy, en vandag het dit weer sterstatus nadat celebs soos Emma Watson, Carey Mulligan, Halle Berry en Michelle Williams onder die skêr deurgeloop het.

Waar ’n lang kuif in Twiggy se dae sinoniem was met die elfie-styl, word dit deesdae met ’n kort kuif in enige styl geknip. Dié sjiek retrovoorkoms – dink ook Mia Farrow rondom 1960 – is net die ding vir petite vroue.

Dit is ’n maklike, lae-onderhoudstyl, maar onthou: Dit moet al om die 6 weke geknip word om elke haar op sy plek te hou.

Stileer jou elfie-styl só: Spuit mousse in jou hande en werk dit deur jou hare in die styl waarvan jy hou. Laat dit natuurlik droog word en gebruik dan waks om van die slierte vorm en aksent te gee.

Joanna Baikoff 

JOANNA BAIKOFF - VRYSKUT MEDIABEPLANNER

DILEMMA

Ná ’n goeie haarsny kon Joanna altyd haar hare net was en los. Nadat sy ma geword het, het haar hare egter ’n growwer tekstuur.Dit blink nou minder en is heelwat dunner.Dit raak gou vuil en leweloos, en Joanna moet haar produkte met sorg kies. Dié besige, werkende ma wil ’n maklike,moeitevrye styl hê.

OPLOSSING

Joanna was nie bang vir ’n baie korter styl nie en sy was opgewonde oor die idee van ’n kuif wat “happerig”geknip word. Met die sjiek, kort en maklik hanteerbare styl het Shelene ook haar stileertyd kortgeknip: ’n vinnige was, gevolg deur ’n opknapper en minimale droogwordtyd is al wat nodig is.

STILIS SE WENK

Kyk na al die moontlikhede voor jy op ’n spesifieke elfie-styl besluit.

SKOONHEIDSWENK

Joanna het ’n perfekte vel. As jy ook so gelukkig is, kan jy gerus “minder is meer” jou mantra maak – ’n smeersel onderlaag of verbloemmiddel wanneer dit nodig is, definisie om die oë en ’n bietjie
blosser is al wat jy saam met jou natuurlike gloed hoef te gebruik.

‘Die diep, ryk kleur steek ook al my grys hare weg. Ek hou van
eenvoud, daarom is ek dol oor my nuwe “was-en-los”-styl.’
Joanna Baikoff

TREND: SJOKOLADEBRUIN

Bruin en rooi skakerings is die vuurwarmste trend in die koeler maande, wanneer ons ’n behoefte het aan natuurliker en meer aardse kleure. Die bruin palet pas die meeste gelaatskleure en skep diepte in van ligte karamel tot diep kastaiingbruin.

Kry inspirasie by Dannii Minogue en blaas lewe in bruin hare met ’n gesofistikeerde, kort bob of dra dit boheems deur die wortels donkerder as die punte te kleur. Die goeie nuus vir natuurlike donkerkoppe is dat donker wortels nou net so kan bly. Kyk ’n bietjie hoe lyk Rachel Bilson,
Alexa Chung en Jessica Biel.

Bruin hare lyk maklik blink en gesond omdat dit lig weerkaats en beskadigde of gebreekte hare kamoefleer. Dis ook die maklikste kleur om in stand te hou.

 Charisse Tyer

CHARISSE TYER - JEANSONTWERPER EN SAKEVROU

DILEMMA
Charisse se fyn, poreuse hare het deurgeloop onder te veel chemiese behandelings. Ons span stiliste het ook gevoel omdat haar gelaats- en haarkleur so te sê identies is, laat die ligte haarkleur haar vaal lyk.

OPLOSSING

Shelene het ’n donkerder kleur gekies om kontras te skep tussen Charisse se gelaats- en haarkleur, wat haar goeie eienskappe beklemtoon. ’n Paar ligter sonstrepies skep diepte en beweging. Die kort supergesofistikeerde bob metskerp, uitgedunde punte laat Charisse se
hare dikker lyk.

STILIS SE WENK

’n Soliede kleur “raam” ’n fyn gesig, terwyl ’n verskeidenheid sonstrepies die hare wip gee sodat dit nie swaar lyk nie. Gebruik altyd ’n sjampoe wat die kleur beskerm sodat dit langer hou.

SKOONHEIDSWENK

Ons grimeerkunstenaar Tamzin sê Charisse kan haar pragtige oë beklemtoon met oogskadu in ’n warm koper, glansgoud of ryk sjokoladebruin.

Charisse Tyer  ‘Ek is dol oor my kleur en styl en met Shelene se raad sal ek dit in stand kan hou.’
Charisse Tyrer

TREND: KARTELS EN KRULLE

Straal sensualiteit en skoonheid uit deur die meeste te maak van krulhare. Of jou kartels los of spiraalvormigis, en jou hare kort, mediumlengte of lank is, krulhare kan in asemrowende style omgetoor word. Sarah Jessica Parker en Rachel Zoe is kartelheldinne. Dié van ons met reguit lokke spog deesdae ook met Farrah Fawcett-kartels!

Om jou krulle met trots te kan dra moet jy weet hoe om dit in toom te hou met die regte stileergereedskap. Kroes- en krulhare is nie dieselfde ding nie. Krulhare kan jy elke dag met produkte stileer; kroeshare het ’n meer langtermyn-behandeling nodig soos ’n La-Brasiliana of reguitmaakproduk. Vermy produkte met ’n hoë alkoholinhoud; jy wil los, informele lokke hê. Dra verskillende style sodat jou kartels jou nie verveel nie. Krulhare kan reguit gemaak word, in sagter
krulle gestileer word, of jy kan dit net was en los sodat die natuur sy gang gaan.

Kim Norwood-Young 

KIM NORWOOD-YOUNG - KOMMUNIKASIE-KONSULTANT

DILEMMA
Kim wil professioneel lyk en gebruik ’n stileeryster so te sê daagliks. Dis nie net tydrowend vir ’n beroepsvrou met jong kinders nie, maar laat ook haar hare droog en swaar lyk.

OPLOSSING

Die spesialisstilis Phepa Moloi het vir Kim kitsstileerwenke gegee vir ’n krullerige of reguit styl. Hy het haar hare weer in haar eie ryk bruin gekleur met subtiele sonstrepies vir warmte. Haar swaar krulle lyk ligter danksy lae.

STILIS SE WENK

’n Gereelde haarsny en donkerder kleur tem kroesies. Kies die beste stileeryster wat jy kan bekostig en die regte haardroër vir jou haarsoort. Clicks se wye reeks Toni & Guy-toestelle het Kim se hare gered. Die Toni & Guy Afro Ionic Moisture Lock Straightener se ioniese vogretensie sorg vir blinkgladde, hanteerbare hare. Die Toni & Guy Afro Ionic Moisture Lock Dryer se ioniese tegnologie vang vog vas en voorkom skade met hittebeheer. (Toni & Guytoestelle is by Clicks-winkels te kry.)

SKOONHEIDSWENK

Kim se wenkbroue het ’n begeerlike, natuurlike boogvorm. As jou wenkbroue ook lig is, kleur dit ligbruin in om jou gesig diepte te gee.

Kim Norwood-Young

‘Ek was ’n kombinasie van benoud en baie opgewonde oor die verandering. Dit het baie gehelp dat ek deel was van die proses. Ek sien daarna uit om self Phepa se wenke vir produkte en stileergereedskap op die proef te stel. Ek hou baie van my kleur, en is regtig bly dat ek nou weet hoe om met my krulle te werk.’

Kim Norwood-Young

TREND: 'N KORDAATKUIF

Om ’n kuif te knip is een van die maklikste en beste maniere om ’n splinternuwe haarstyl te kry – sonder om lengte te verloor. Dit kan jou gesigvorm of ’n besonderse eienskap komplementeer, dun hare dikker toor, ’n prominente voorkop laat krimp, en selfs ’n slegte haarsny red. Kate Moss, Reese Witherspoon en Kate Beckinsale is net ’n handjievol van die celebs wat deesdae met ’n kuif spog.

’n Kuif kan lank, kort, skuins of iewers tussenin geknip word; dit kan swaar of veerlig, glad en reguit of ’n boheemse deurmekaarspul wees. Jou gesigvorm sal bepaal watter een van die magdom style vir jou werk, maar ’n kuif pas veral by ’n bob, kortgeknipte of lang hare.

Laat knip jou kuif by ’n professionele stilis, maar gesels eers met haar oor die beste styl vir jou hare se tekstuur en toestand, jou gesigvorm en leefstyl.

Hannalie Odendal - VOOR 

HANNALIE ODENDAL (32) GRAFIESE ONTWERPER

DILEMMA
Hannalie se eentonige blonde haarkleur het diepte gekort. Sy was tevrede met die lengte en toestand, maar wou ’n moderner styl hê met meer volume en wip.

OPLOSSING

Die stilis Bongani Zuma het die gebleikte kleur opgehelder met ’nverskeidenheid blonde skakerings. Shelene het ’n paar lae geknip,maar die lengte behou in ’n meer prettige, veelsydige styl met wip. Die tekstuur in die kuif komplementeer en versag Hannalie se gesigvorm.

STILIS SE WENK

Die bonus van ’n kuif is dat jy dit vinnig kan was as jy haastig is. Dit laat jou hare vars en skoon lyk, sonder dat jy aan die res daarvan geraak het.

SKOONHEIDSWENK

Hannalie se lieflike, lang wimpers is effens fyn. Sulke fyn wimpers lyk voller as jy ’n pikswart volumemaskara gebruik. Wend meer as een laag aan om jou oë groter te laat lyk.

Hannalie Odendal

‘Ek is regtig dol oor die styl en kleur wat die stiliste gekies het. Die oormaaksessie was subtiel, maar ook baie doeltreffend’

Hannalie Odendaal

TREND: SKITTERBLINK HARE

Ongeag jou styl of kleur, blink, gesonde hare is die grootste trend en binne almal se bereik danksy die regte stileerprodukte en -gereedskap.

Sterre soos Olivia Palermo, Cheryl Cole en Jennifer Aniston spog altyd met skitterblink hare.

Onthou, die klimaat en verkeerde of ekstreme stileertegnieke eis sy tol. Kam liewer nat hare en borsel droë hare sodat dit nie breek nie; gaan gereeld vir ’n intense opknapbehandeling en maak seker jy gebruik die regte sjampoe – een wat jou haarsoort behoorlik skoonkry, maar nie leweloos laat nie.

Vir ’n meer langtermynoplossing vir lastige fyn krulletjies, gesels met jou salon oor ’n Bio Ionicof La-Brasilianiabehandeling vir gladder hare.

Daarna moet jy net jou hare in ’n goeie toestand hou met die regte stileerprodukte.

Elise Suckerman - VOOR 

Elise Suckerman (24) - Funksie-koördineerder

DILEMMA
Elise se vol bos hare is fyn en kroeserig en hanteer moeilik. Met ’n veeleisende loopbaan het sy min tyd om haar hare reguit te stileer en weens al die droogblasery is haar hare nou baie droog.

OPLOSSING

Die stilis Haydi Bean het vir Elise gewys hoe sy verdere skade kan voorkom deur die regte stileerprodukte te gebruik en minder gereeld droog te blaas. Omdat Elise reguit hare verkies en nie meer met fyn kroesies wou sukkel nie, het Haydi die Japannese Bio Ionicbehandeling gedoen
wat hare permanent reguit en meer hanteerbaar maak.

Elise moet nou net haar sjiek styl in stand hou met Revlon Flex-mousse of -haarsproei. Shelene Shaer, stilis van die sterre en eienaar van Tanaz, het Elise se hare in ’n gesofistikeerde, lang bob met lae geknip wat haar gesig slanker laat lyk, en dit in ’n koel bruin (Revlon Colorsilk Shade 54Light Golden Brown) gekleur wat haar gelaat komplementeer.

Vir ekstra glans het Shelene ook ’n La Brasiliania-behandeling gedoen.

STILIS SE WENK

Droë hare vorm nie beheerbare krulle nie; dit raak net kroeserig en leweloos. Te veel sjampoe kan jou hare uitdroog; was dit liewer al om die ander dag. Los dit effens klam wanneer jy dit droogblaas; só behou dit die nodige vog.

SKOONHEIDSWENK

Elise se vel is ook baie droog, wat grimering aangeplak laat lyk. Onthou, jy moet ’n droë vel gereeld eksfolieer en met ’n gehaltevogroom of serum hidreer voordat jy onderlaag aanwend.

Elise Suckerman - NA 

‘Dis ongelooflik; die krulle en kroeserigheid is heeltemal weg! Die korter styl werk lekker en is iets wat ek lankal wou doen, maar dan het my krulle altyd handuit geruk en nog moeiliker hanteer.

 Die tekstuur is baie beter en my koperkleur is nou ’n ryker bruin, wat my hare ekstra blink laat lyk.’

Elise Suckerman

Hou sarie.com oor die volgende paar dae dop om al die oormaaksessies te sien!