Die woord "selfie" (wanneer jy met jou slimfoon ’n foto van jouself neem, gewoonlik om op ’n sosiale netwerk te laai) is amptelik aangewys as Oxford Dictionaries se internasionale woord van die jaar vir 2013. In SARIE se kantoor in Johannesburg vier ons dié aankondiging met ’n paar selfies van ons eie ... En ons deel terselfdertyd sommer ons gunsteling-produkte met jou.

Charis Labuschagne, skoonheidsredakteur

Pienk is my gunsteling-lipkleur! Clinique Chubby Stick in Pudgy Peony (R215) gee helder kleur aan jou lippe, terwyl dit sommer ook bevog.

Fanie Cronjé, styl- en sosiale redakteur

Organics is my gunsteling. Kokosneut is ook ’n gunsteling. En 2-in-1-sjampoes. Dan maak dit mos nie saak dat Organics Kids 2-in-1 Shampoo & Conditioner in Coconutty (R40 vir 400 ml) eintlik vir kinders is nie.

Gloria Cilliers, spesialis-joernalis

’n Blosser is ’n maklike produk om te gebruik om vinnig jou voorkoms op te helder. Ek is mal oor Elizabeth Arden Colour Radiance Blush in Sunburst (R250).

Elmari de Vos, skoonheid-intern

’n Ligte oogskadu (soos wit) in die binnehoek van jou oë laat dit groter lyk. Die nuwe Rimmel Scandaleyes Eye Shadow Stick in Witness White (R90) wend maklik aan.