Bio-Therapeutic se bt-Cocktail (R1 596) bevat drie produkte wat spesiaal ontwikkel is om die vermoë van jou selle om energie te skep aan te wakker. Soos ons ouer word, vervaardig ons selle minder energie en dit lei dit tot tekens van veroudering. Jy wend die produkte in stappe aan.

bt-Cocktail Energy 1 hou die olie (sebum) wat jou vel vervaardig in toom en verlig jou vel.

bt-Cocktail Energy 2 werk as ’n serum en beskerm jou vel teen die aanslae van die omgewing.

bt-Cocktail Energy 3 bevog en beskerm jou vel teen oksidasie. Ná ’n maand van gebruik, kon ek ’n groot verskil aan my vel sien. Dit was gladder, egaliger en bevog. Die produkte het almal ’n ligte tekstuur en dit voel glad nie swaar op jou vel nie.

Die maatskappy Bio-Therapeutic vervaardig ook velsorgtegnologie. Ek het vroeër vanjaar ook hul LED-gesigbehandeling op die proef gestel:

Wat is ’n LED-gesigbehandeling?

LED is ’n elektroniese komponent wat verskillende kleure lig skep. Bio-Therapeutic se LED-gesigbehandeling span dié tegnologie in en vier kleure – rooi, geel, groen en blou – of ’n kombinasie daarvan word gebruik om verskillende velprobleme en -kwellinge te behandel.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Wat behels die behandeling?

Jy gesels eers met die skoonheidsterapeut oor jou spesifieke kwelling. Sy stel dan die kleur lig voor, reinig jou vel, wend serums aan wat help dat die lig jou vel egalig tref en plaas ’n jel-agtige masker op jou gesig voordat jy 8 – 20 minute onder ’n LED-toestel lê.

Tydens sy besoek aan Suid-Afrika vroeër vanjaar het David Suzuki, voorsitter van Bio-Therapeutic, verduidelik wat die verskillende kleure lig se voordeel vir jou vel kan wees:

Die rooi lig help teen veroudering. Dit het die langste golflengte van die vier kleure en dring jou vel diep binne. Soos ons ouer word, verminder ons selle se vermoë om energie te skep. Dit is byvoorbeeld hoekom kollageenproduksie afneem en ons ouer lyk. Die rooi lig stimuleer jou selle om meer energie te skep vir onder meer beter kollageen- en elastien-produksie. Dit kan help om fyn lyntjies en plooie te verminder.

Die geel lig kan help om inflammasie te verminder deur sirkulasie aan te wakker.

Die groen lig kan help om hiperpigmentasie (donker vlekke) en rooiheid te behandel.

En die blou lig kan help vir velprobleme soos ’n veluitslag en aknee deurdat dit die bakterieë wat aknee veroorsaak, beveg.

Hoeveel behandelings het jy nodig?

Een behandeling per week vir ses weke agtereenvolgens en daarna een behandeling per maand.

Wat is die newe-effekte?

Voor die behandeling word ’n spesiale donkerbril oor jou oë gesit om die meeste lig uit te hou. Die rooi en geel lig is baie skerp en kan veroorsaak dat jou sig vir ’n paar sekondes ná die behandeling ’n bietjie dof is, maar dit keer gou weer terug na normaal.

As jy aan epilepsie ly of medikasie soos Roaccutane gebruik, bevestig eers met jou dokter of jy hierdie behandeling mag laat doen. Dit is nie geskik as jy swanger is nie.

Hoeveel kos dit?

Sowat R450 – R500 per behandeling.

Hoe veilig is dit?

Volgens David Suzuki is dit 100% veilig.

charis_2_310wCharis toets

Ek was verras om te hoor dat lig goed kan wees vir jou vel en was baie opgewonde om die Bio-Therapeutic LED-gesigbehandeling te probeer. Ek het vier behandelings oor ’n tydperk van ses weke gehad. Omdat ek ’n veluitslag om my ken gehad het, het die skoonheidsterapeut voorgestel dat die blou lig tydens my sessies gebruik word. My uitslag het heelwat opgeklaar. Ek het nie van nature ’n goeie vel nie, maar in die tyd toe ek die LED-behandelings gekry het, het ek baie komplimente gekry oor hoe stralend my vel lyk.

*bt-Cocktail is beskikbaar op www.bio-therapeutic.co.za