Ek’s altyd opsoek na ’n handsakgroot handeroom wat genoeg vog gee maar jou vingers nie te olierig laat voel nie - anders raak dit ongerieflik om op ’n rekenaar te tik of aantekeninge te maak.

Greenland se handeroom kom in ’n kompakte ronde metaalblikkie waarvan die dekseltjie oop en toe skroef – ’n vars idee wat jou boonop die bekommernis spaar dat die houer kan oopskiet en room in jou handsak uitloop. Ek het die handeroom in die ment-en-laventelgeur (R95) getoets.

Die room lyk en voel dik en luuks, maar dit is sag en gee hope vog sonder om ’n taai gevoel of olierigheid op jou hande agter te laat. Die ment gee jou hande ’n verfrissende, skoon gevoel. Boonop ruik jy die ment en laventel vir ure daarna nog op jou vel.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Dis klein genoeg vir jou handsak en propvol voordele – genoeg vog, geen olierigheid of taai gevoel, en dit ruik heerlik. - Gloria Cilliers, spesialis-joernalis by SARIE.

* Greenland is eksklusief by Edgars beskikbaar.