Ons skoonheidsredakteur, Charis Labuschagne, blog:

Toe Bobbi Brown onlangs hul nuwe produkte in Kaapstad bekend gestel het, het die internasionale grimeerkunstenaar Eliano Bou Assi ’n paar goeie wenke met ons gedeel. Eliano is deur Bobbi Brown self opgelei en reis regoor die wêreld om sy grimeerkennis te deel. Hier is ’n paar van sy beste wenke:

  1. Poeier is nie gemaak om kleur aan jou gesig te gee nie. Dit moet bloot jou onderlaag set. Wend ’n tikkie poeier net aan op dié dele van jou gesig waar jy geneig is om te blink.
  2. Wanneer jy ’n oogomlyner gebruik, is daar drie belangrike reëls om te  onthou:

    a. Die oogomlyner moet donkerder as die kleur van jou oë wees.

    b. Wend dit so na moontlik aan jou wimperlyn aan.

    c. Die lyn moet dik genoeg wees sodat jy dit sien wanneer jou oë oop is. 

  3. As jy oogomlyner en oogskadu sáám gebruik, moet een van die produkte ’n neutrale kleur wees. Moenie ’n kleurryke oogskadu saam met ’n kleurryke omlyner gebruik nie. 
  4. Blosser moet altyd natuurlik op jou wange lyk. As jy ’n ligte veltoon het, gebruik blosser met ’n ligte skakering. Jy kan ’n donkerder skakering gebruik as jy ’n donkerder veltoon het.
  5. Moenie ’n oogpotlood gebruik om jou wenkbroue in te kleur nie, want dit kan maklik soos ’n tatoeëermerk lyk. Gebruik eerder oogskadu. Die oogskadu moet dieselfde kleur as die wortels van jou hare wees.

Katie Holmes & Bobbi Brown

Die aktrise Katie Holmes is verlede jaar aangewys as die gesig van Bobbi Brown en nou het sy saam met Bobbi ’n spesiale grimeerpalet ontwerp. Die Bobbi & Katie Collection bestaan uit die Bobbi & Katie palette (R1025), 'n palet met oogskadu, lipomlyner en pot rouge, en die Bobbi & Katie mini brush set (R940) met vier oulike grimeerkwassies. Die Bobbi & Katie Collection is vanaf 9 September vir ’n beperkte tyd beskikbaar.

Bobbi & Katie mini brush set (R940). FOTO: verskaf

Bobbi & Katie palette (R1025) FOTO: verskaf