Ons skoonheidsredakteur blog.

Min vroue het nie ’n gunsteling-produk wat hulle heeltyd in hul handsak saamdra nie. Dié week deel SARIE se Johannesburg-kollegas hul belangrikste produkte wat hulle altyd byderhand hou.

Charis Labuschagne, skoonheidsredakteur:

Ek reis baie tussen Johannesburg en Kaapstad vir werk. Al daardie tyd wat ek op ’n vliegtuig deurbring, dehidreer my vel. Ek het altyd ’n gesigsproei in my handsak. Ná ’n lang dag by die werk of twee uur op ’n vliegtuig verfris en bevog dit jou vel in ’n oogwink.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Probeer Chanel Hydra Beauty Essence Mist (R650 vir 50 ml)  of Nimue Vitamin C Moisture Mist (R139).

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Liesl du Toit, skoonheidsassistent:

FOTO: verskafEk is absoluut gek na ’n lekker parfuum, maar dis onprakties om ’n bottel oral saam met my te dra. Dié dat ek nie sonder ’n handsakgrootte van my gunsteling-geur soggens by die deur uitstap nie. Vandat ek hierdie klein groottes ontdek het, is ek versot daarop.

My huidige gunsteling? Marni Purse Spray (R1 195). Boonop kry jy ’n oulike ontwerperspoppie daarby!

Phyllis Green, senior fotograaf en boeke-redakteur:

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

In my handsak is daar altyd ’n amarilvyl (emeryboard), want daar is niks wat ek so pes soos ’n nael wat gebreek het of ’n growwe kantjie gemaak het nie. Omdat ek as fotograaf my hande baie gebruik, is dit maklik om ’n “nael-noodgeval” te kry en hierdie naelvyl is my lewensredder. Ek verkies dit bo ’n metaal-naelvyl omdat dit sagter op my naels is.

Probeer Elegant Touch Large Emery Boards (R21 by Clicks).

Elmari de Vos, skoonheidsintern:

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

’n Goeie lipsalf in jou handsak is ’n moet. Jy weet nooit wanneer jou lippe in die middel van ’n ete of op pad na ’n belangrike geleentheid skielik droog en branderig voel nie. En ’n lipstiffie hou ook soveel beter as jou lippe goed bevog is. Toe Edgars vroeër vanjaar Greenland se produkte begin aanhou het, het ek besluit om een van hul lipsalwe, Greenland Lip Balm in Coconut (R65)  te toets. Ek is mal daaroor – ek voel dit ure nadat ek dit aangewend het nog op my lippe en dit maak my lippe sag.