Die meeste van ons het drie belangrike woorde geleer as dit kom by velsorg – ‘cleanse, tone, moisturise’. Maar hierdie stappe is lankal nie meer genoeg om jou vel in die beste toestand te hou nie. Een van die belangrikste produkte wat deel van jou basiese velsorgroetine behoort te wees, is ’n goeie afskilferaar. As jy dit gereeld gebruik, kan dit ’n reuse verskil aan jou vel se voorkoms maak. Jou vel raak daagliks van miljoene dooie selle ontslae om plek te maak vir nuwe, gesonde selle. Maar hierdie proses gebeur al hoe stadiger soos wat ons ouer word, en dooie selle bou dan op jou veloppervlak. Dit is dán wanneer jou gelaat vaal en leweloos begin lyk. ’n Afskilferaar skilfer hierdie dooie selle sagkens af sodat jou vel stralend lyk. Jou ander skoonheidsprodukte sal ook dan beter kan penetreer. Kies die regte afskilferaar:

  • AHA’s (Alfahidroksiesure) is hoofsaaklik glikol- en melk-sure. 'n Produk met dié bestanddeel is 'n goeie opsie as jy sonskade of ’n droë vel het.

  • BHA (Betahidroksiesuur) is salisiel-suur. Dit is baie goed vir ’n olierige vel wat geneig is om uit te slaan, omdat dit anti-inflammatories én anti-bakterieel is.

  • Wanneer jy ’n AHA- of BHA-produk gebruik, lees die aanwysings mooi. Sekere produkte kan jy daagliks aanwend nadat jy jou gesig gewas het, en daarna jou vogroom gebruik. Ander produkte gebruik jy net een of twee keer ’n week. Daar is ook produkte wat jy net vir ’n paar minute moet aanwend en dan afspoel.