By die Eucerin-bekendstelling vroeër hierdie week het dr. Pholile Mpofu, ’n dermatoloog van Johannesburg, oor veroudering en velsorg gesels. Haar interessante praatjie het my omtrent laat regop sit. Hier is ’n paar hoogtepunte uit haar voorlegging:

1.Die son is ons grootste vyand wanneer dit by veroudering kom. Dit is hoekom jy elke oggend ’n goeie sonskerm op jou gesig móét aanwend. Ander sondaars wat veroudering veroorsaak is rook, te veel alkohol en ’n ongesonde dieet.

2.Die SBF in jou grimering is gewoonlik nie genoeg om jou vel teen die son te beskerm nie. Gebruik daarom ’n aparte sonskerm. Hoe hoër die SBF, hoe beter. Gebruik sommer ’n SBF van 50!

3.UV-strale is nie die enigste strale waarvoor jy skrikkerig moet wees nie. Ons weet nou infrarooi (wat byvoorbeeld deur jou rekenaar en haardroër uitgestraal word) is net so skadelik vir jou vel. En sonskerm kan nie jou vel hierteen beskerm nie! Die antwoord is antioksidante. Gebruik ’n gehalte produk met antioksidante soos vitamien E en C.

4.Dis nie net plooie wat jou ouer laat lyk nie, maar ook die verlies aan volume in jou gesig (daardie ingesonke voorkoms wat jy kry soos jy ouer word, veral aan die onderkant van jou gesig). Daar is ongelukkig nie veel wat ons kan doen om dit te voorkom nie. Dit kan wel behandel word met vullers.

5.Onegalige veltoon, wat onder meer deur hiperpigmentasie (donker vlekke) veroorsaak word, kan jou tot tien jaar ouer laat lyk.Die hoofoorsaak van donker vlekke is die son. Nog ’n rede om ‘n goeie sonskerm te gebruik!