Ons skoonheidsredakteur, Charis Labuschagne, blog.

Dis wonderlik om maand ná maand die geleentheid te kry om met soveel skoonheidsprodukte te eksperimenteer. Net as jy dink jy het die beste produkte onder die son gevind en daar is niks anders wat jou meer kan beïndruk nie, beland daar nog ’n produk of twee in die skoonheidstoor waarvan jy jou vriendinne onmiddellik wil vertel.

Hieronder is my gunsteling-produkte vir die maand:

Ek kon dadelik ’n verskil aan my vel sien toe ek Paula’s Choice Skin Perfecting Exfoliant 1% BHA Lotion (R295) begin gebruik het – my vel straal meer en my porieë is skoner. Dis ’n afskilferaar wat salisielsuur inspan om van dooie selle ontslae te raak. Jy wend dit daagliks onder jou vogroom aan. Die voordeel van salisielsuur is dat dit anti-bakterieel en anti-inflammatories is. Dit help dus om ’n probleemvel in toom te hou. Dis belangrik om sonskerm aan te wend as jy hierdie produk gebruik.

Beskikbaar by www.paulaschoice.co.za

Lees meer oor die skoonheidsmites wat Paula Begoun nek omgedraai het!

Estée Lauder DayWear Anti-Oxidant Beauty Benefit Creme (R460) is perfek as jy nie hou van ’n swaar onderlaag nie. Dis ’n romerige formule wat jou vel liggies bedek. Die beste? Dit bevat ’n SBF van 35.

Bobbi Brown Long-Wear Cream Shadow in Velvet Plum (R295) is tans een van my gunsteling-produkte vir my oë. Dit gly maklik aan omdat dit so romerig en sag is. Dit het ’n effense glans en is perfek om in die dag of aand te gebruik.

As jy soek na kleur op jou lippe wat hou, is black|Up 2 in 1 Lip Pencil  jumbo|Up (R200) perfek. Ek is mal oor die kleur JUM08 – ’n donkerpienk – veral omdat pienk vir jou lippe nou so in die mode is.

Ek het fyn hare en as jy ook fyn hare het, weet jy hoe moeilik dit is om volume te skep. Ek was opgewonde om Kérastase se nuwe luukse-stileerprodukte, Kérastase Couture Styling, te probeer. En Kérastase Mousse Bouffante (R260) – ’n mousse wat volume beloof – was eerste op my lys. Ek het dit aangewend en my hare drooggeblaas. Dit het my hare omtrent ekstra woema gegee sonder om dit taai of hard te laat voel.

Kérastase wys jou hoe om dié seisoen se gewildste haarvoorkomste te kry.