Dis nou byna ’n jaar sedert ek as SARIE se skoonheidsredakteur aangestel is en ek het die afgelope 12 maande ongelooflik baie geleer oor alles van velsorg en grimering tot haarstilering en naelkuns. Soos ek geleer het, het ek gedeel – op SARIE.com, Instagram, Twitter en in die tydskrif self.

Hier is ’n paar wenke wat ek nou gereeld volg.

1. Vroue skeep dikwels hul wenkbroue af wanneer hulle grimeer en tog kan dit ’n groot verskil aan jou voorkoms maak as jy jou wenkbroue net so ’n bietjie groom. Welige wenkbroue is steeds ’n tendens en ek volg hierdie wenke om myne voller te laat lyk.

2. By ’n bekendstelling van ’n nuwe skoonheidsproduk is ons bederf met ’n haar- en grimeersessie. Ek het vir die haarstilis gevra om vir my natuurlike golwe te skep. Met my fyn, gladde hare sak enige krul wat ek al ooit probeer insit het binne ’n uur uit. Ek was verras om te sien die haarstilis prop haar stileeryster (hair straightener) in om die golwe te maak. Dit het so goed gewerk, dat ek saam met my skoonheidspan ’n Instagram-video gemaak het oor hoe om golwe én krulle met ’n stileeryster te skep.

Skep dit só!

3. Ek het nog nooit daarvan gehou om sonskerm op my gesig te gebruik nie en was oortuig daarvan dat die SBF in my onderlaag my vel genoeg teen die son beskerm. ’n Veteraan-skoonheidsredakteur het omtrent na haar asem gesnak toe ek haar vertel het ek gebruik nie sonskerm nie. Sy’t voorspel ek gaan nie lank as skoonheidsredakteur werk voordat ek gaan besef hoe belangrik dit is nie. Nou ja, vandag wend ek daagliks sonskerm aan (en ek vertel vir almal wat wil luister hoekom hulle dit ook moet doen), want by élke geleentheid of bekendstelling waar ’n dermatoloog ’n praatjie gelewer het, het hulle almal dieselfde boodskap gehad: Dra sonskerm!

Die belangrikheid van sonskerm. 

4. Dis algemeen bekend dat jou vel baat by afskilfering, maar ek het nooit geweet hóé ’n groot verskil dit kan maak nie. Ek het nog altyd net met ’n gesigskrop afgeskilfer en was versigtig vir enige produk wat ’n suur bevat. Nou is ek ’n groot aanhanger van afskilferaars met bestanddele soos salisiel-, melk- en glikoliese suur.

Hoekom jy jou vel moet afskilfer.