Ons skoonheidsredakteur, Charis Labuschagne, blog.

Sy is bekend as ‘The Cosmetics Cop’ en het al op TV-programme soos Oprah, The View en The Dr. Oz Show verskyn. Die Amerikaner Paula Begoun het meer as dertig jaar gelede begin om skoonheidsprodukte se formules wetenskaplik te ontleed en haar bevindings met vroue te deel. In haar lang loopbaan het Paula 20 topverkoper-boeke oor velsorg en die skoonheidsbedryf geskryf. Sy het in 1995 besluit om al die kennis wat sy oor die jare opgedoen het in te span en haar eie velsorgreeks, Paula’s Choice, te ontwikkel. Paula was onlangs in Suid-Afrika om hierdie velsorgreeks in Suid-Afrika bekend te stel en het ’n paar skoonheidsmites met ons gedeel:

y5g5258_630w

Mite 1: Jou vel raak gewoond aan skoonheidsprodukte en ná ’n ruk is dit nie meer doeltreffend nie

Goeie skoonheidsprodukte bly doeltreffend, maak nie saak hoe lank jy dit gebruik nie. Jy mag dalk ná ’n ruk nie dieselfde dramatiese verbetering aan jou vel sien soos toe jy die produk begin gebruik het nie. Dit is bloot omdat jou vel die gesonder voorkoms onderhou wat die produk oor tyd geskep het.

Mite 2: As jy ’n droë vel het, drink net meer water

Ongelukkig gaan dit nie help om meer water te drink nie omdat die water nie na jou vel se oppervlak beweeg nie (dit is hierdie deel van jou vel wat droog is). As jy ’n droë vel wil voorkom moet jy eerder enigiets vermy wat die buitenste deel van jou vel beskadig, soos te veel son-blootstelling, rook en produkte wat jou vel irriteer.

Lees Charis se blog oor BB-, CC- en DD-rome.

Mite 3: Jy gaan een of ander tyd jou aknee ontgroei

Jy kan selfs in jou 40’s, 50’s en 60’s aknee kry – dít is te danke aan ons skommelende hormone. Die beste manier om aknee te behandel is om jou gesig met ’n sagte reiniger te was, die bakterieë wat die aknee veroorsaak met ’n produk te behandel wat bensoïel-peroksied bevat en jou vel af te skilfer met ’n produk wat salisielsuur (salicylic acid) bevat. Salisielsuur is anti-bakterieel en anti-inflammatories.

Mite 4: Ouderdom veroorsaak donker vlekke

‘Ouderdomsvlekke’ is die verkeerde term vir donker vlekke omdat dit deur jare se sonblootstelling veroorsaak word. Jy kan op enige ouderdom donker vlekke kry. Dit is belangrik om altyd ’n goeie sonskerm aan te wend. Onthou om dit ook aan jou hande en bors-gedeelte aan te wend.

Mite 5: ’n Droë vel veroorsaak plooie

Daar is geen verbintenis tussen ’n droë vel en plooie nie omdat droogheid nie jou vel se kollageen beskadig nie.

y5g5356_400w

Paula’s Choice-produkte is aanlyn beskikbaar by www.paulaschoice.co.za