30 sekondes

Dít is hoe lank dit neem vir ’n vrou om ’n nuwe parfuum te kies nadat sy dit by die toonbank geruik het, sê Trudi Loren, adjunkpresident van korporatiewe geurontwikkeling wêreldwyd by Estée Lauder. Die geur verlei ons lank voordat ons enigsins gedink het aan hoe lank die parfuum op ons vel gaan hou, watter soort parfuum dit is of hoe die geur gaan ontwikkel …

Hoe kies jy die regte parfuum by die  toonbank?

Kies ’n paar geure op die rak waarvan jy die meeste hou, spuit elkeen op ’n kaartjie wat jy by die parfuumtoonbank kry en kies dan jou twee gunstelinge, stel Tammy Frazer, parfumeur van Kaapstad en eienaar van Frazer Parfum, voor. Spuit dan hierdie twee parfuums op elke pols, wag ’n paar uur en ruik hoe die geur  ontwikkel het. Kies dan die parfuum waarvan jy die meeste hou.

Hoekom is vroue so lief vir parfuum?

Dit laat ons mooi voel, sê Tammy. “Dis ’n manier om jou identiteit uit te druk. Deur jou gunsteling-parfuum aan te wend, verklap jy iets van jouself sonder om ’n woord te sê.”

Trudi stem saam. “Parfuum verklap jou bui en persoonlikheid. Omdat ’n geur verskillend ruik aan verskillende vroue, is dit ’n unieke ‘bykomstigheid’.”

Hoe wend jy parfuum aan?

Elke vrou het haar eie ritueel, sê Tammy. “Sommige vroue spuit dit in die lug en stap daardeur. Ander spuit dit direk op hul vel, soos in die nek. Die belangrikste is om nie te veel aan te spuit nie. As jy ’n ligter geur deur die dag gebruik, kan jy meer aanspuit, maar in die aand, wanneer jy ’n swaarder geur dra, geld die reël ‘minder is meer’.”

Karyn Khoury, Estée Lauder se bekende “neus”, spuit graag haar parfuum in haar nek, hare én in die waai van haar knieë, het sy verlede jaar tydens haar besoek aan SA vertel. “Geur styg. As jy parfuum op verskillende dele van jou lyf spuit, skep dit ’n aanloklike aura.” Moet nooit jou polse teen mekaar druk nadat jy parfuum aangespuit het nie, sê Karyn, want jy bespoedig die natuurlike ontwikkeling van die parfuum en dan gaan jy baie van die topnote nie ruik nie.

*Lees môre SARIE.com vir nóg handige parfuumwenke