Watter parfuum pas by watter seisoen?

Iets soos ’n sitrus-geur is perfek vir die somer, en selfs die lente, omdat dié parfuums vars en sprankelend is, sê Wesley Perumal, ’n geurspesialis van L’Oréal. “Om hierdie geure in die winter te gebruik is nie verkeerd nie, maar dis nie ideaal nie. Warm, sensuele parfuums soos Oosterse geure pas beter by die kouer maande.”

Wat is nou die parfuumtendense?

Op die oomblik is Oosterse blomgeure en vrugtige blomgeure groot in vroueparfuums, sê Wesley. “Maar hierdie tendense het ’n effense kinkel. Dit word gekombineer met gourmand-elemente [gourmand verwys na eetbare bestanddele] soos karamel en suiker.”

Wat word bedoel met ’n chypre-geur?

Wanneer ’n parfuum ’n chypre-geur is, beteken dit die parfuum het vrugte-topnote, blomnote in sy hart en ’n muskus-basis. Dior Miss Dior (R1 080 vir 50 ml) en Givenchy Dahlia Noir L’Eau (R795 vir 50 ml EDT) is klassieke chypre-geure.

Is daar sekere persoonlikhede wat sekere soorte parfuums verkies?

Wesley glo nie ’n vrou se keuse van parfuum kan opgedeel word in persoonlikheid-stereotipes nie. “Elke vrou kies ’n parfuum gegrond op haar eie unieke voorkeure. Party voel hulle identifiseer met ’n sekere handelsmerk en kies daarom een van dié handelsmerk se parfuums, party kies ’n nostalgiese geur, ander kies weer ’n parfuum wat bloot lekker ruik. En dan is daar vroue wat ’n geur kies om uit te staan of anders te wees.”

Om te weet

Agarhout, ook bekend as oud of oodh, is ’n baie duur parfmuumbestanddeel afkomstig van ’n sekere boom inheems aan Suidoos-Asië. Dié skaars bestanddeel, met sy diep, sensuele geur, vorm wanneer ’n spesifieke fungus dié bome besmet en die bome in reaksie ’n donker, aromatiese gom afskei. Tom Ford Oud Wood (R1 900 vir 50 ml EDP), ’n geur vir hom en haar, is ’n oud-parfuum.

Tom Ford Oud Wood (R1 900 vir 50 ml EDP) Tom Ford Oud Wood (R1 900 vir 50 ml EDP) FOTO: verskaf

Ambergris (uitgespreek amber-gree) word bekom wanneer potvisse (sperm whales) hul kos uitspuug. Dit is gehul in ambergris wat in dié walvisse se spysverteringstelsel vorm. Ambergris het ’n soet muskusgeur en word beter hoe  langer dit verouder. Deesdae word net sinteties vervaardigde ambergris in parfuum gebruik. Armani Privé Oud Royal (R2 400 vir 100 ml EDP) bevat oud én ambergris.

Armani Privé Oud Royal (R2 400 vir 100 ml EDP)  FOTO: verskaf Armani Privé Oud Royal (R2 400 vir 100 ml EDP)
FOTO: verskaf

Aldehide is organise chemiese molekules met ’n vars, seperige geur. Chanel No. 5 (R1 065 vir 50 ml EDP) is ’n  bekende aldehide-geur.

Chanel No. 5 (R1 065 vir 50 ml EDP) FOTO: Chanel Chanel No. 5 (R1 065 vir 50 ml EDP)
FOTO: Chanel

Hou SARIE.com môre dop vir nog nuttige inligting uit jou eie parfuumgids.

Parfuum 101 - jou eie parfuumgids DEEL 1