My eerste herinnering aan geur was toe ek op my ouma se skoot gesit en haar Youth-Dew geruik het. Wanneer ek ook al dié parfuum ruik, voel ek daardie bekende warmte, liefde en geluk. Ek word teruggeneem in tyd na daardie 7-jarige meisie.

Parfuum behoort iets van jou op ’n bepaalde oomblik te sê. Dit moet definieer hoe jy dán voel. Ek dra graag op ’n warm somerdag ’n vars, sitrusgeur en dan weer op ’n koue winterdag ’n houterige speserygeur.

Vroue kies parfuum vandag anders as 20 jaar gelede. Hulle soek selde één parfuum om hulself mee te definieer – die neiging is om 3 tot 5 parfuums in jou badkamer te hê waaruit jy kan kies. Dit word jou ‘geur-klerekas’ genoem.

My bui bepaal of ek klassieke parfuum gaan dra of met iets nuuts gaan eksperimenteer. Soms geniet ek dit om nostalgies te wees en iets bekends te dra. Ander kere hou ek van die onverwagse genot wanneer ek ’n nuwe geur ontdek, soos met Pleasures Delight. Daar is iets vars en onverwags aan dié geur.

Om geur te kies is makliker as wat ons dink. Reuk is ons kragtigste sintuig. Dit skep emosionele konneksies met jou verlede en druk uit wat jy hoop die toekoms kan wees. Jy weet gewoonlik dadelik of jy met ’n geur identifiseer of nie.”