Die aantreklike Paul Rothmann is al 19 jaar lank ’n bekende gesig op TV as aanbieder van die SABC2-leefstylprogram Pasella. Hy’t pas 40 geword, tog lyk hy nie ’n dag ouer as toe ons hom jare terug op die kassie leer ken het nie. “Ek glo ek lyk beter op 40 as wat ek in my 20’s gelyk het. Ek is sterker en meer gespierd,” sê hy. Dit was nog altyd vir hom belangrik om gesond te leef en hy is baie gedissiplineerd wanneer dit kom by dieet en oefening.

Hoe bly jy gesond en fiks?

Ek glo in ’n hoëproteïen-laekoolhidraat-eetplan en oefen vier keer ’n week in my tuisgimnasium. Ek was nog altyd baie trots op my lyf. Toe ek vroeër jare professioneel geveg het [Paul is ’n voormalige Thaiboks-wêreldkampioen], was dit belangrik om gesond en sterk te wees vir die sportsoort. Vandaar het die dissipline deel van my lewe geword.

TBT. Fightstars- My MMA Debut. Smile, punch, kick, smile repeat...

A post shared by Paul Rothmann (@paulrothmann1) on

Hoekom is dit vir jou belangrik om jouself te versorg?

As jy goed voel oor jouself, straal jy daardie selfvertroue na buite uit. Jy dra jouself net beter. Maar jy moet steeds eg wees. Die laaste paar jaar het ek meer waardering vir “rou” skoonheid – iemand wat dit wat hulle het, beklemtoon en versorg, eerder as om iets weg te steek.

Wat is jou daaglikse velsorgroetine?

Glo dit of nie, ek volg glad nie ’n velsorgroetine nie. Ek sal elke nou en dan een van Candice [Boucher, sy lewensmaat] se gesigrome probeer, maar oor die algemeen gebruik ek niks op my gesig nie.

In SARIE se Julie 2017-uitgawe. FOTO: Leana Clunies-Ross

Hoe versorg jy jou hare?

Ek was dit met Alpecin-kafeïensjampoe om haarverlies te voorkom. My haarstileerder het my ingelig my hare is aan die bokant van my kop so ’n bietjie minder “bebos”. Toe besluit ek om eerder voorkomend op te tree as om later spyt te wees.

Alpecin Caffeine Shampoo (R110)

Die kafeïen in dié sjampoe stimuleer jou haarwortels om beter te groei en voorkom haarverlies.