Jou nuwe skoonheidsjuwele. Daar is ’n nuwe soort bling op loopplanke wêreldwyd, en dis nie net deel van begeerlike uitrustings nie. Dis ook in ons grimering, op ons naels én hare . . . Ons skitter met skynsels van goud, diamante en pêrels, want dié edelstowwe word deesdae in skoonheidsmiddels gebruik.  En nie net in grimering nie: Ook velsorgprodukte verkry nuwe glimmer-status nadat produkontwikkelaars ontdek het dit het voordele vir jou vel.

Jy’s goud werd

Midas het beslis die skoonheidswêreld magies aangeraak - byna álles blink van die goud.
Toe Peter Philips, kreatiewe direkteur van Chanel Makeup, inspirasie gesoek het vir sy nuwe grimeerreeks het hy Coco Chanel se woonplek aan die Rue Cambon in Parys bestudeer. Hy het sy blink idee gekry toe hy telkens merk hoe prominent goud in dié groot ontwerper se lewe was. Van haar knope tot die handvatsels van haar handsakke het geglinster van goud.
“Goud staan uit as ’n belofte van lig op jou vel,” verduidelik Peter. “En dís die tema wat in ons nuutste reeks verweef is.”
Goud vorm die glinsterende hart van Chanel se Facettes D’Or-reeks. Dit blink in hul lipglanse, blossers en selfs naellak.

Modeontwerper Donna Karan het ook inspirasie gevind in goud toe sy die parfuum Donna Karan Gold geskep het.
“Ek het nog altyd die passie en krag van goud aanloklik gevind. Goud se helderheid trek my aan en ek kan nie anders as om daaraan te wil raak nie.
“As ontwerper is ek mal oor goud teen swart. Ek dink ek het met dié parfuum daarin geslaag om goud se warm, sensuele geur vas te vang,” sê sy.
Donna Karan Gold bevat Casablanca-lelie, amber en goue balsem. Toe hierdie parfuum in 2006 bekend gestel is, was dit dadelik ’n sukses.
Vir Donna was dít vanselfsprekend: “Goud is primitief en eg - dis warm, sexy én hou ’n leeftyd.”

Lancôme het nie agtergebly nie. Telma Gomes, die bemarkingsbestuurder, sê hul nuwe glinsterende maskara, Lancôme Virtuôse Black Carat in 24 Carats Gold, is geïnspireer deur bekende vroue wat jou met ’n intense en dramatiese blik kan oorrompel.
“In hierdie maskara skitter goudpigmente subtiel wanneer lig daarop val. Virtuôse Black Carat is ideaal vir vroue wat hou van lang, gekrulde wimpers. Dit wend maklik aan en die resultaat is glansryk,” sê Telma. Navorsers het ook besef dat egte goud wondere vir jou vel kan doen. Goudpoeier word nou in velsorgprodukte gebruik vanweë dié edelmetaal se vermoë om velvernuwing aan te wakker.

In Dr. Hauschka Intensive Care 04 word goud en amberpoeier byvoorbeeld gekombineer om tekens van ouderdom teen te werk - veral vir vroue bo 40.
“Natuurlike geneeskunde werk deur impulse aan jou vel te gee sodat jou vel self harder werk. Dis die verskil tussen ’n sterk en ’n lui vel,” verduidelik Caro Copeland, uitvoerende hoof van Tocara Skin and Body Science.“En goud is die ideale mineraal om jou vel se helende kragte te stimuleer. Jy kan dit in die kleur sien - opwindend, luuks en lewenskragtig.”
Skoonheidshuise soos Estée Lauder en Guerlain gebruik ook egte goud in van hul produkte. “Ons gebruik kolloïdale goud,” vertel Leila Marx, nasionale opleidingsbestuurder van Estée Lauder. “Dit bevat gouddeeltjies en is ’n kragtige antioksidant wat jou vel kalmeer en donker vlekke behandel.”

En in Guerlain se poeier-parfuum, Forever Gold All Over Body Powder, word regte goue deeltjies saam met die poeier op jou lyf gespuit!
Daar’s ook goud vir die res van jou lyf. Germaine de Cappucini, ’n Spaanse spa-handelsnaam, het hul Gold Star Wrap geskep met goue alge van die Bretonse kus van Frankryk.
“In antieke Egipte het goud lig, suiwerheid, onsterflikheid en energie gesimboliseer,” vertel Nadia D’Alleva, nasionale opleier by Cosmetix. “Hierdie behandeling bied jou dieselfde eienskappe. Dis wel net die kleur van die alg wat goud is, maar dié skaars alg help teen veroudering en beskerm jou vel.” (Skakel 011 267 6900 vir meer besonderhede oor dié behandeling.)

Vir die feestyd trek Jean Paul Gaultier CLASSIQUE se ikoniese vroue-bottel ’n goue nommertjie aan.

 

Inpêrel-lig

Jy’t deesdae meer as net pêrels van wysheid tot jou beskikking! Pêrels help ook om jou vel te pamperlang. Die skoonheidshuis Guerlain beskryf hulself as “kenners van lig”.
Hulle verstaan hoe lig op ’n vrou se vel weerkaats word en wat dit vir jou gelaat kan doen.

In hul Météorites Perles Light-Diffusing Perfecting Primer is hierdie kennis van lig en pêrels gebruik. Die produk lyk soos pêrelballetjies en bevat ’n poeier wat oortollige olie op die vel absorbeer en jou natuurlik blosend laat lyk - perfek voor jy met jou grimering begin.
Die reeks se gesigpoeier, Météorites Illuminating Pressed Pearl Powder, boots die ondertone van regte pêrelkleure na om jou gelaat blitsvinnig te verfraai: goue ondertone sorg vir helderheid, pienk vir ’n gesonde gloed, groen verminder rooiheid en blou trek lig aan.
Om fyn lyntjies om jou oë te beveg is pêrels ook die antwoord.
“Pêrelpoeier is ’n proteïen-aanvulling met wonderlike, hernuwende voordele. Wanneer jy jou vel met die regte proteïene voed, kan die kollageenweefsel herstel word,” sê Nadia D’Alleva van Cosmetix.
Pêrels word deesdae ook in gesigrome gebruik, soos Estée Lauder se Re-Nutriv-reeks: “Ons voeg fyngemaalde Suidsee-pêrels by ons Re-Nutriv-rome, want dit verhelder dadelik jou vel en laat jou jonger lyk,” sê Leila Marx van Estée Lauder.
Ook die skoonheidshuis Pevonia, wat landwyd produkte aan spa’s verskaf, glo in pêrel-ekstrak om die vel op te knap en die tekstuur te verbeter.
Waardevolle pêrelstukkies word ook in maskara gebruik om jou oë te laat glinster. Die kleur van Lancôme Hypnôse Onyx is afkomstig van oniks-ekstrak - ’n gekonsentreerde swart pigment wat jou oë ryklik afrond. Dit vorm die perfekte kontras sodat die wit pêrelstukkies tot hul reg kan kom.

 

Blink uit

Diamante was nog altyd ’n meisie se beste vriend, maar onlangs eers het hierdie vriendskap ook in die skoonheidswêreld begin skyn.
Navorsers het besef diamante het helende kragte wat jou velsorgroetine ’n hupstoot kan gee, terwyl dit in grimering ’n vaal gelaat verhelder.
Clodagh Knott, bemarkingsbestuurder van La Mer, vertel dat diamantpoeier in La Mer The Refining Facial ingespan word sodat jy ’n super-luukse gesigbehandeling kan geniet. “Diamante is wel die hardste mineraal, maar wanneer hulle tot mikroskopiese grootte fyngemaal word, werk dit baie sag en doeltreffend om van dooie velletjies ontslae te raak.
Só word sirkulasie verbeter en jou vel ontwaak weer.”
Ook Guinot maak gebruik van diamantpoeier om jou vel te vernuwe met hul Biological Peeling Radiance Gel. Hierdie gesigbehandeling gaan só sagkens te werk dat dit selfs op sensitiewe dele soos oë en lippe gebruik kan word.
Diamantkrag word ook vir naels gebruik: In Jessica se Diamond-reeks help diamantpoeier in die naellak om naels se weerstand op te bou en te voorkom dat hulle breek.
En wat grimering betref, skitter diamante natuurlik. Diamantblinkgesigpoeiers is dié somer ’n groot neiging.

Een van Dior se sterprodukte, Night Diamond, is ’n aksentpoeier wat bedags of saans gebruik kan word om jou wange, sleutelbene en hals te beklemtoon.
Grimeerkunstenaar Leana Hugo vertel dat diamantstukkies in swart en wit oogskadu’s in die feestyd te sien sal wees vir ’n dramatiese effek.