Hoewel die grootte en voorkoms van porieë op jou gesig grootliks deur jou gene bepaal word is daar slim maniere en gewoontes om vergrote en verstopte porieë hok te slaan, sê Jacquie Carter, direkteur van Herbalife se velsorgreeks, Outer Nutrition. Hiér is alles wat jy moet weet oor porieë plus Jacquie se wenke:

Wat is porieë?

Porieë is klein openings op jou vel waardeur olie en sweet van onder jou vel uitgelaat word. Die olie wat uitgelaat word, word ook sebum genoem en help om jou vel gesond en soepel te hou deur te keer dat vog ontsnap.

Wat veroorsaak vergrote porieë?

Die grootte van jou porieë word hoofsaaklik deur jou gene bepaal wat beteken porieë-groottes kan verskil van persoon tot persoon. Daar is egter drie redes waarom jou porieë kan vergroot of meer sigbaar kan voorkom.

  • Te veel son blootstelling – Blootstelling aan die son se skadelike UV-strale veroorsaak dat die kollageen onder jou boonste vellaag afgebreek word. Jou vel kan dan styf voel en vog en plompheid verloor wat daartoe lei dat jou porieë gerek word.
  • Verstopte porieë – Oortollige sebum in jou porieë is geneig om grimering en onsuiwerhede daarin vas te vang. Die opbou van dié onsuiwerhede lei tot swarkoppies en kan jou porieë laat rek.
  • Veroudering – Soos wat jy ouer word begin jou vel van sy natuurlike vog en elastisiteit verloor. Dié proses kan ook daartoe lei dat jou porieë gerek word en meer sigbaar word.

Lees hiér van alles om te weet oor plooie

Hoe laat ek porieë kleiner voorkom?

  1. Reinig en verfris

Die nommer een geheim om vergrote porieë te voorkom is om jou gesig elke oggend en aand behoorlik te reinig. Só verwyder jy onsuiwerhede en oortollige sebum. As jy geneig is om ’n olierige vel te hê is dit veral belangrik om ’n reiniger te gebruik wat spesiaal geformuleer is om sebum te beheer.

Die gebruik van ’n verfrisser (toner) beveg ook die vorming van vergrote porieë omdat dit enige onsuiwerhede wat ná reiniging dalk agter gebly het verwyder. Daarby handhaaf dit ook jou vel se natuurlike pH-balans wat sorg dat jou vel nie te veel sebum produseer nie.

  1. Goeie higiëne en grimeer gewoontes

Dié raad word keer op keer herhaal, maar steeds bly dit een van die belangrikste skoonheidswenke – verwyder altyd jou grimering voor jy gaan slaap. Hoe gouer jy jou grimering aan die einde van die dag verywder, hoe beter. Sommige grimering kan jou porieë verstop wat kan lei tot ’n veluitslag. Probeer ook om so min as moontlik deur die dag aan jou gesig te vat om te voorkom dat bakterieë en vuilheid op jou hande nie aan jou gesig afsmeer nie.

  1. Dra sonskerm

Die son se skadelike UV-strale is een van die grootste sondebokke wat die natuurlike kollageen in jou vel afbreek. Wanneer jou vel dan begin hang vertoon jou porieë baie groter. Wend elke dag sonskerm aan met ’n SBF van ten minste 30 en probeer altyd ’n hoed dra wanneer jy lang tye in die son gaan deurbring.

Blake Lively swanger met eersteling!

  1. Skilfer jou vel gereeld af

Deur gereeld jou gesig af te skilfer voorkom jy dat dooie velselle, onsuiwerhede en olie op jou vel opbou en jou porieë verstop. As jy ’n olierige vel het sal dit goed wees om twee tot drie keer ’n week af te skilfer. As jy ’n droë vel het is dit beter om een tot twee keer ’n week af te skilfer en ’n ryk vogroom na die tyd aan te smeer.

  1. Bly koel

Hoe warmer die temperatuur, hoe meer maak jou porieë oop – iets wat ons almal al in die stort beleef het. Soos wat jy afkoel maak jou porieë weer toe. Daarom glo Jacquie daarin om elke nou en dan ’n paar druppels koue water op jou gesig te spat. Dit sal jou porieë laat toemaak sodat dit minder sigbaar voorkom en boonop sal dit heerlik verfrissend tydens die somermaand wees.

Katie Holmes nuwe gesig van internasionale velsorghuis - lees meer!