Op vakansie wil jy ontspan en nie kosbare tyd aan jou hare, grimering en velsorgroetine bestee nie. Hiér deel ons nuttige wenke sodat jy moeiteloos kan wegbreek – en steeds goed lyk en voel.

#1 Pak toetsgroottes van verskillende skoonheidsprodukte in wanneer jy reis. Dit neem nie baie plek op nie en jy kan die klein botteltjies of koevertjies sommer ná jou vakansie weggooi.

#2 As jy nie toetsgroottes van al die produkte in die hande kry nie, gooi vloeistowwe soos sjampoe, opknapper en lyfseep in kleiner reisgroot botteltjies en seël dit in ’n deursigtige Ziplock-sakkie. Dié produkte is geneig om maklik te lek of selfs oop te bars met die verandering in lugdruk wanneer jy vlieg.

#3 Vir ’n vakansie is praktiese, veeldoelige produkte perfek! Dink aan ’n oogskadu-palet met neutrale skakerings wat sommer ook as ’n wenkbroupoeier dien, ’n verbronser wat jy vir ’n songloed-vel of oogskadu kan inspan, ’n CC-room met ’n SBF (dit bevog en bedek jou vel én beskerm dit teen die son) en ’n koraalkleurige lipstiffie wat jy ook as blosser gebruik.

#4 Pak misel-water (’n reinigingsformule wat bestaan uit klein olie-molekules in water) in om jou vel mee skoon te maak. Dit is maklik om te gebruik, want jy vee dit net oor jou gesig met ’n stukkie watte en jy hoef dit nie af te spoel nie.

#5 Deesdae verkoop baie skoonheidshuise hul produkte in reisgroottes. Dit is ideaal as jy lig wil reis. Grimeerpotlode vir jou oë, lippe en wange is die maklikste grimering om mee te reis, want dit neem omtrent geen spasie op nie en jy hoef nie grimeerborsels in te pak nie. Jy skakeer die produk sommer met jou vingers.

#6 Ons is mal oor dié wenk wat Malaika Alf, plaaslike kommunikasiebestuurder van Estée Lauder, Aerin en Tom Ford, vroeër vanjaar met ons gedeel het:

“Ek neem altyd ’n toetsgroot parfuum saam wat ek nog nooit gebruik het nie wanneer ek reis en spuit dit gereeld aan sodat ek ’n geur-assosiasie met die bestemming maak. As ek die parfuum later weer ruik, herinner dit my aan daardie vakansie en my avonture."
Summer coolers. #ChubbyStick For Lips in Supreme Sorbet. #Clinique #Beauty #Makeup #LipGloss A photo posted by Clinique (@clinique) on

Maak seker dié produkte is in jou reistassie:

Lees nou

Naellak-idees vir kort naels

7 dinge wat jou vel beskadig - kan jy glo!