Speel daar onverwags ’n Afrikaanse liedjie soos “Tweede Kans” van Riana Nel, “Lei My Na Die Water” van Demi Lee Moore of “Vier Woorde” van Tarryn Lamb op die radio, kan jy nie help om te wil saam dans nie. 

Dié einste treffers vorm deel van talle Suid-Afrikaners se DNA, want sodra dít speel, sal jy hulle hand aan hand op die dansbaan vind waar hulle besig is om te sokkie. 

In hierdie vreemde tyd van die Covid-19-pandemie mis ons hulle op die verhoog. Die SARIE-skoonheidspan het by dié drie sangers gaan inloer om te hoor hoe dit met hulle gaan tydens inperking. Boonop het hulle so paar skoonheidsvrae beantwoord en van hul velsorg-, grimering- en haargeheime verklap.

Riana Nel

FOTO Willem Botha

Keer op keer bereik Riana se albums platinumstatus, iets wat volgens haar te danke aan genade is. Verlede jaar het sy weekliks op die kassie as mentor op die gewilde The Voice verskyn. In Maart vanjaar het sy haar derde seuntjie net voor die nasionale inperking verwelkom. “Ek het geboorte gegee net voor die lockdown en wens sy ouma en oumie kon hom vashou.”

Riana is dankbaar vir die tyd saam met haar gesin. “Tyd saam met my man en kinders is presies waarvoor ek so gehoop het. Daar is dingetjies wat ek mis soos ander mense, maar ek hou van ons nuwe roetine. Ons maak ’n vuurtjie in die aand en speel op die gras. My babatjie is nou 8 weke oud en dit is maar bedrywig met drie kindertjies op jou eie. Mens kry gou ’n ritme en dan is dit beter.”

Nie net het sy haar hande vol met drie kinders nie, maar sy skryf steeds liedjies vir mense en het private aanlyn optredes in die aand. So wanneer die kinders slaap, benut Riana haar tyd goed. 

“Elke dag is opwindend as ek gaan sit om liedjies te skryf vir mense wat hul stories vir my gestuur het. Hulle deel baie diep verhale en ek probeer dit vir hulle in ’n lied sit! Ek het al liedjies geskryf vir toekomstige mans en herdenkings. Dan ook vir mense wat iemand verloor het en babatjies wat net tot 28 weke geleef het. Dis amazing om deel te raak van hulle stories. Voel asof ek almal so goed leer ken.” 

Riana bly positief, want al voel alles onseker is daar daagliks wonderwerke wat gebeur. “As jou buurvrou piesangbrood stuur en ’n ander vriend mango’s aflaai. Die wintermiddagson en die baie WhatsApp-oproepe met vriende en familie. Voel amper asof ons nou meer gesels.”

Riana oor haar hare ...

Wat is jou gunsteling-haarproduk?

Wella se haarsorgprodukte is haar gunsteling. Riana vertel dat sy die gesels en cappucino by Stijl Salon in Garsfontein mis. Baie aanhangers wonder altyd oor haar pragtige, welige donker hare, sy verklap dat sy nie haarverlengings dra nie as iemand daaroor wonder.

Enige haaruitdagings en hoe oorkom jy dit?

Deur my swangerskap het my hare so lekker sterk geword, maar amal weet dat so drie maande na jy geboorte gee, dan begin dit uitval. So dis belangrik om te kyk na jou vitamiene en gesondheid. En dit maaar nie te ernstig te vat nie!

Wat is jou gunstelingstyl om jou hare in te dra?

Ek dra amper altyd my hare los of in ’n kant vlegsel. My man hou van dit los en reguit en ek hou van dit gekrul!

Riana oor grimering ...

Wat is jou gunsteling-grimeerprodukte?

Ek is mal oor M.A.C en L.A. Girl. Ek het seker al alles probeer en die goeie behou. Ek doen altyd my eie makeup by shows soos Afrikaans is Groot en op The Voice. Ek het net nie tyd om vir ure te sit vir makeup nie en dit gee my kans om te dink. So bietjie me time voor ’n optrede.

Wat is jou gunsteling-grimeervoorkoms?

Ek is mal oor ’n smokey eye en nude lip en contour is baie belangrik. As ek die dag vol selfvertroue is of wil wees dan sal ek ’n diep rooi lip van M.A.C (Ruby Woo) dra.

M.A.C Retro Matte Lipstick in Ruby Woo (R260)

Riana oor velsorg ... 

Jou moet-hê-velsorgprodukte?

Ek gebruik Johnson & Johnson se gesigwas, soms sommer Nivea se produkte ook. Ek hou van iets wat lekker ruik, ek onthou my ma se gesigroom het altyd so lekker geruik as ek haar nag gesoen het.

Enige veluitdagings en hoe behandel jy dit?

Ouer word. Dis seker maar hoe die wiel draai. Die lag lyntjies en my fronslyne is maar opvallend, maar dit herinner my aan ’n mooi liedjie (The Story) en dan voel ek dit was worth it om hul te hê. Dit wys jy was êrens en het gelewe. Jy kan nie mooi vir altyd wees nie.

Enige velsorgraad aan ander?

Ek het eens ’n Kardashian gehoor sê dat jy nie op jouself moet lê nie. Ek het eers nie verstaan nie, maar dit maak sin! Mens moet maar probeer om op jou rug te slaap sodat niks verrimpel nie. Ek kry dit nie reg nie want ek slaap graag op my maag en sye! My raad sou wees om baie water te drink en vars, rou kosse wat baie aanvullings bevat te eet. Besoek ook ’n goeie skoonheidsalon vir ’n facial.

Tarryn Lamb

FOTO Willem Botha

Dié donkerkop het vinnig in talle Suid-Afrikaners se hart ingekruip. Ja, sy sing, skryf liedjies en kan goed toneel speeel. Haar solo-album, Mal oor jou, is in 2018 uitgereik en sy het gou gewys dat sy die rol as mede-aanbieder van die kykNET-talentkompetisie Maak my famous foutloos kan vertolk.

Tarryn benadruk dat dis ’n hartseer tyd vir Suid-Afrika. “Daar is so baie mense wat nou van die swaarste kruise dra. Ek probeer elke dag om net op dankbaarheid te fokus en die beste van alles te maak. Eks daagliks opsoek na stilte. Dis vir my heerlik in die stilte, die dae wanneer ek dít kry is vir my die lekkerste.”

En wat vang sy alles tydens die vreemde tyd aan om besig te bly? “Ek het nog nie probeer om te oefen nie (LOL) en dit help ook nie as ek dit so baie geniet om nuwe bakresepte te probeer nie! Daar is dae wanneer ek net die huis wil skoonmaak, ek love die gevoel wanneer ek my skoon wasgoed op die wasgoedlyn hang. Meeste van my tyd spandeer ek tuis in my studio en skryf liedjies.”

Sy vertel dat sy besig is om aan nuwe projekte te werk. “Daar is verskriklik baie nuwe verrassings waarmee ek besig is, ek is so opgewonde! Ek kan nie wag om die nuus te deel nie, ek is tans besig om alles lekker te beplan!” 

Tarryn oor haar hare ...

Sy is bly dat haar hare nou kans kry om behoorlik te rus, nou dat sy slegs by diehuis is hoef sy darem nie vreeslik haar haardroeër of haartang in te span nie. 

Enige haaruitdagings en hoe oorkom jy dit?

Ek het verlede jaar probeer om my hare blond te kleur en dit was nie ’n goeie idee nie. Dit het my hare so beskadig. Ek het besef dat as ek verkillende haarstyle wil doen, moet ek eerdermet pruike eksperimenteer.

Wat is jou gunstelingstyle om jou hare in te dra?

Ek dra my hare die meeste van die tyd in ’n poniestert of bolla.

Tarryn oor grimering ...

Wat is jou drie gunsteling-grimeerprodukte?

Maskara, ’n wenkbroupotlood en ’n goeie lipsalf.

Wat is jou gunsteling-grimeervoorkoms?

’n Rooilip doen altyd die trick vir my!

Tarryn oor velsorg ...

Jou moet-hê-velsorgprodukte?

Vogroom en sonskerm.

Enige velsorgraad aan ander?

Ek probeer altyd om genoeg water in te kry, dis vir my een van die belangrikste goed wat jy kan doen vir ’n beter vel. So ten minste 2 liter water per dag sal jou vel lekker elasties en gesond hou. Ek dink hoe minder jy aan jou gesig vat hoe beter, as jy moet, was altyd eers jou hande!

Demi Lee Moore

FOTO Marijke Willems

Te danke aan VIA se sangkompetisie Die Kontrak wat sy in 2018 gewen het, het dié blondine van Durbanville uiteindelik die erkenning gekry wat sy so hard voor gewerk het. Sy het vinnig gewys waartoe sy instaat is met haar debuutalbum wat goue status bereik het. Nog voor die inperking het sy die land plat gereis met vertonings, sommer maklik 50 000 aanhangers op ’n slag.

Met die Covid-19-pandemie probeer sy op die positiewe fokus. “Na ’n ongelooflike besige jaar het ek die rustigheid verwelkom maar dit raak nou bietjie moeilik. Ek mis die optredes en ek mis my familie vreeslik baie. Ek was nog nooit so lank weg van hulle nie.”

Demi-Lee bly besig en maak tyd vir daardie lang prioriteitslysies. “Ek het ’n paar vertrekke geverf en reggepak. Dit is lekker om die dinge te kan doen waar ek nie by kon uitkom vanaf ons in ons huis ingetrek het nie. Ek kook ook baie lekker, ook iets wat ek amper nooit doen nie. Ek geniet dit vreeslik.”

Sy herinner haarself om dankbaar te bly vir die feit dat sy n dak oor haar kop, kos op die tafel en hitte tydens die koue aande het. “Ons het dalk nie nou werk nie en dit is moeilik maar ons het baie meer as wat baie mense daar buite het. Dankie tog vir tegnologie, ons vind maniere om optredes te doen. Dit breek my hart dat daar mense is wat net geen alternatief het nie. Ons is regtig dankbaar.” 

Demi Lee het haar eerste inbly-konsert einde April gedoen. “Ons werk nou aan nog ene, groter en beter vir einde Junie!”

Demi Lee oor haar hare ...

Wat is jou gunsteling-haarproduk?

My gunsteling produk is enigiets van Milkshake. Hulle produkte ruik so ongelooflik lekker.

Enige haaruitdagings en hoe oorkom jy dit?

Aangesien ek blond is kan ek nie nou my hare gou met ’n boksie kleur regmaak nie, want my hare het sonstrepe. Dankie tog my hare groei nie donker uit nie! Ek was my hare met pers sjampoe. Dit gee die blond meer van ’n grys kleur wat baie beter werk met die uitgroei.

Wat is jou gunstelingstyl om jou hare in te dra?

Ek hou van groot krulle wat ek gewoonlik net uitskud, maar as ek nie tyd het om krulle te maak nie dra ek gewoonlik ’n ponieestert. My eie hare is redelik kort so ek het poniesterte van Strand of Love wat ek dra. Dit lyk altyd mooi en elegant. 

Demi Lee oor grimering ...

Wat is jou drie gunsteling-grimeerprodukte?

Ek kan nie sonder maskara nie. Onderlaag en natuurlik ’n verbronser is ’n MOET!

Wat is jou gunsteling-grimeervoorkoms?

Ek moet sê ek dra óf geen grimering óf ek lyk soos ’n waspop! Wanneer ek grimeer is ’n goeie onderlaag vir my die belangrikste met poeier en verbronser. Ek sit gewoonlik niks op my oë behalwe maskara nie. Ek kleur ook my wenkbroue altyd in om my geisg af te rond. ’n Rooi lippie is my gunsteling wanneer ek optree.

Demi Lee oor velsorg ...

Jou moet-hê-velsorgprodukte?

DermExcel. Ek het die jaar hierdie produkte begin gebruik en dit is werklik die beste produkte wat ek nog ooit gebruik het.

Enige veluitdagings en hoe behandel jy dit?

Ek sukkel met pigmentasie as ek te veel tyd in die son spandeer. Dit maak lelike vlekke op my vel. Ek kon gelukkig met die regte produkte en Dermapen-behandeling van die vlekke ontslae raak.

Enige velsorgraad aan ander?

Was ALTYD jou grimering af. Ek gaan slaap nie voor ek my gesig gewas het nie. Al is ek hoe moeg maak ek ’n punt daarvan om my grimering af te haal.